Prins Harry en sy meisie, Cressida Bonas, bring minder tyd saam deur.

Die paartjie het, nadat die prins deelgeneem het aan ’n Suidpool-staptog, nie Nuwejaar saam deurgebring nie. Vriende sê nou hulle “dryf uiteen”.

Die prins (29) het saam met verteenwoordigers van die militêre liefdadigheidsorganisasie Walking with the Wounded deelgeneem aan ’n staptog van meer as 320 km. Hulle het drie weke in ysige weer oor onherbergsame terrein gestap.

Dit lyk asof Harry sedert sy terugkeer na Brittanje afstand plaas tussen hom en Cressida.

Vriende van die paartjie het aan die Sunday Mirror gesê: “Troupraatjies oor Harry en Cressida is heeltemal ongegrond. Dis Harry wat wil aangaan met sy lewe.

“Hy is ongelooflik erg oor Cressida en geniet haar geselskap. Tog het hy verantwoordelikhede en planne op ander lewensgebiede, wat aan die korste ent sal trek as hy homself vestig.”

Die bron het bygevoeg: “Dis nie wat hy nou in sy lewe wil hê nie. Dit sal in der waarheid nie ’n verrassing wees as hulle binnekort uitmekaargaan nie.”

Cressida (24) het Nuwejaar sonder Harry deurgebring saam met haar halfsuster, Isabella Branson, op haar skoonpa, sir Richard Branson, se Karibiese eiland, Necker.

Die paartjie, wat 19 maande ’n aan-af-verhouding gehad het, het mekaar waarskynlik nie gesien sedert die naweek voor Kersfees nie. Hulle het dit op sir Richard se Kidlington-landgoed deurgebring.