Dié beweging van leerders, ouers en onderwysers wat hulle vir gehalte en gelykheid in SA onderwys beywer, waarsku al die afgelope paar jaar 'n Zuptakrasie is slegte nuus vir alles wat saak maak in ons land.

Waar Gwede Mantashe, ANC-sekretaris-generaal, teleurstellend teruggekrabbel het ná sy en ander Topses-leiers se kritiek teen Nommer Een, spel die EE-sekretaris-generaal Tshepo Motsepe dit mooi uit waarom Zuma-hulle lankal moes gewaai het:

In die afgelope week of wat "het Suid-Afrika die jongste van 'n lang rits onbesonne besluite van die sittende president ervaar.

"Ons het al gevra dat Zuma teruggeroep word toe hy 'n vorige baie bekwame minister van finansies, Nhlanhla Nene, afgedank het.

"En die argument dat [Pravin Gordhan] se afdanking nou die implementering van 'radikale ekonomiese transformasie' verteenwoordig, is 'n wanvoorstelling.

"Inderwaarheid verwyder dié afdanking een van die laaste struikelblokke vir Zuma se persoonlike verryking deur, onder meer, die korrupte beoogde kernkragooreenkoms, wat die land bankrot sal maak.  

"Suid-Afrikaners móet optree, hulle moet hul steun bied aan pogings om te verseker dat Zuma en al sy korrupte luitenante die regering verlaat en aan die volle gesag van die reg onderwerp word,'' vra Tshepo.  

Hy noem voorts ook dié hoofredes waarom Zuma dringend uit die kussing gelig moet word:

  1. "As aktiviste wat daagliks vir maatskaplike geregtigheid veg, weet ons byvoorbeeld ons pogings om 'n gelyke onderwysstelsel in SA te bewerkstellig, sal futiel wees as ons 'n korrupte staat onder beheer van die Guptas en Jacob Zuma toelaat om so voort te gaan.''
  2. Die "plundering" van die "nasionale beursie" sal die befondsing van onderwys, basiese daaglikse behoeftes soos bloot vervoer na skole vir plattelandse leerders, trouens alle sosio-ekonomiese sake ondermyn, benadruk hy.
  3. EE en ander burgerlike bewegings vrees die tesourie kan nou 'n "voertrog word vir plundering en korrupsie", terwyl 'n mens voorheen "met Gordhan en Jonas aan die stuur geweet het die tesourie word nie in private sakke leeggemaak nie".
  4. Buiten die onbekostigbare kernkragkwessie, het hulle en hul tesouriespan ook sterk gestaan en beginselvas gebly oor kwessies soos die agteruitgang by die SA Inkomstediens, die Sassa-skandaal en geldvermorsing en wanbestuur by instellings soos die departement van water en sanitasie en die SA Lugdiens. Belastingsbetalers kan dus wel vra wat gaan gebeur noudat hulle nie meer daar is nie.
  5. Zuma het 'n grondwetlike plig gehad om "sy ministers wat onbevoeg, arrogant en korrup is terug te roep" -- pleks van Gordhan en Jonas.
  6. Onder Zuma is belangrike instellings vir demokrasie weggekalwe: hy het die Skerpioene ontbind, die nasionale vervolgingsgesag ondermyn, die intelligensiedienste teen teenstanders ingespan, die Openbare Beskermer geminag, die reëls van die parlement asook hofbeslissings verontagsaam.
  7. Onder Zuma is dit eenvoudig onmoontlik om korrupsie te oorwin. "Korrupsie maak gemeenskappe seer, ontsê ons boeke, medisyne... infrastruktuur van alle soorte. Dié geveg kan nie met 'n korrupte president gewen word nie. Hy moet gaan."