Die hitte van 43 °C sidder op die teer van die N2 van Kaapstad op pad Oos-Kaap toe. “Die Tuinroete is aan die verlep,” merk ’n mede-reisiger by die vulstasie by die Stormsrivierbrug op. “Een van die dae skuif die Karoo van agter die berg af hierheen.”

Die ergste in menseheugenis – so beleef inwoners die droogte in die Suid-Kaap. In rampgebiede soos Mosselbaai, George, Knysna en Plettenbergbaai praat hulle van die laagste reënvalsyfer wat nog aangeteken is. Die Weerdiens waarsku die reën kan die volgende vier of vyf maande nog wegbly.

Minstens sewe brande woed in die omgewing. Helikopters hang bo die Knysna-strandmeer om water te skep om die brande te blus. Die rookkolom oor Phantom-pas omhul dit in skemer, en dis 13:40 – helder oordag. Kort voor Riviersonderend het dit al soos stoppellande op die Hoëveld gelyk. Teen twaalfuur was dit 40 °C op Riversdal en 43 °C op Oudtshoorn.

Die meeste plaasdamme langs die pad is leeg of feitlik leeg, met beeste wat kniediep in die modder sukkel om by water uit te kom. Die Gouritzrivier is net ’n droë loop. Boere trek swaar. Sommige groenteboere het ophou saai, en alle boere sukkel om te oorleef, sê Agri Wes-Kaap. Veeboere moet voer koop en sukkel finansieel. Die boere kry 30 persent van hul gewone kwota water vir die jaar van die munisipaliteit. En as dit op is, is dit op vir die jaar. Maar ’n boer maak ’n plan . . .

Op Myoli-strand op Sedgefield dreun ’n ontsoutingsaanleg – die grootste in Suid-Afrika – waar seewater deur omgekeerde osmose geskik gemaak word vir menslike gebruik. Nege spesiale boorgate is by die hoogwatermerk gesink om seewater na die aanleg te pomp.

Oos-Kaapse dorpies soos Bedford moet al die afgelope paar maande water laat aanry. Die mense van die Suid- en Oos-Kaap raak desperaat. Tensy dit goed reën – meer as 100 mm en ook goeie opvolgreën – het die rampgebied net water vir minder as drie maande. Daarna is dit droog.

Meer hieroor in Huisgenoot van 18 Februarie.