Armand Hofmeyr (21) het nou wel Maandag-aand in die tjoekie geslaap, maar daar’s geen keer aan die jolige blondekop om verder te gaan paartie by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) nie.

Hy is vir dronkbestuur gearresteer na ‘n kuiertjie saam met sy sussies in Hatfield se kuierkroeë. Oor sy paar ure agter tralies wil hy liewers niks sê nie, maar oor die KKNK gesels hy graag.

“Die KKNK is my gunsteling-gunsteling fees!” borrel hy.

“Daar was mense wat laasjaar gesê het dit was nie so lekker nie, maar ek het gedink, flippit, waarvan práát hulle? Ek is mal daaroor!”

Daar is optredes van sy kollegas wat hy beslis nie wil misloop nie, soos die van Nicholis Louw, Karlien van Jaarsveld en Ray Dylan. Armand sê hy stel veral belang om vertonings van kunstenaars by te woon wat hulle eie lirieke skryf, omdat dit ook is wat hy doen.

Afgesien van die hope musiek-talent by die KKNK is daar ook ‘n ander rede waarom hy so uitsien daarna:

“Hulle sê mos hoe verder jy van die huis af is, hoe mooier raak die girls!”

Maar is daar dan nie reeds ‘n mooi meisie aan sy sy nie?

Hy raak geheimsinnig: “Daar mag dalk wees…”

Armand sê hy het nooit gedink hy sal so ver kom met sy loopbaan as waar hy nou is nie.

“Dit gaan fantasties met my. Ek kan nou al ‘n oktaaf hoër sing as wat ek aan die begin kon doen. En ek skryf nou ook baie beter.”

Armand is vrygelaat op borgtog van R1 000 en wag nog vir ‘n hofdatum oor die insident. Die Bafana Bafana-speler Katlego Mphela is rondom dieselfde tyd as Armand vir dronkbestuur aangekeer, glo nadat hy sy span se oorwinning Egipte in Sandton gevier het. Hy ontken hy was dronk.

Die Glitterati-aanbieder Loui Fish is ook verlede jaar in Sandton aangekla vir dronkbestuur.

Vir meer inligting oor Huisgenoot Musiekplaas besoek: http://kknk.huisgenoot.com/