Angela Maier was so in haar noppies met haar meevaller van R6 miljoen van die lotery dat sy vyf bottels sjampanje weggesluk het voor sy in haar besope toestand die oorblywende geld opgeskeur en in die toilet afgespoel het.

Net nadat sy die vonkelwyn gedrink het, het Angela ’n rekening ontvang van die versorgingsoord waar haar man oorlede is. Hulle wou, omdat sy die Duitse nasionale lotery gewen het, hê sy moes mediese rekeninge betaal.

Die besope 63-jarige het so kwaad geword toe sy die brief lees dat sy besluit het om liewer die geld op te skeur as om die rekeninge te betaal.

’n Hof in haar tuisstad Essen, Duitsland, het gehoor Angela het die storie dalk versin, want dit sal moeilik wees om te bewys sy het die geld vernietig.

Sy het intussen ingestem om R60 000 op te dok om die saak te skik.