Francis Joseph Jackson, wat dronk was toe die voorval plaasgevind het en nie wetlike toesig oor sy kinders het nie, het Martha McClure met die vuis geslaan. Jackson se vriendin het haar glo ook met ’n graaf in die gesig geslaan.

Die ernstige aard van haar beserings kan gesien word op foto’s wat ná die aanval van Martha se gesig geneem is.

Volgens die polisie was drie van Jackson se kinders, almal onder vier jaar oud, verlede week onder Martha se sorg toe hy by haar dagsorgsentrum in Ronan, Montana, opdaag met ’n onbekende vrou aan sy sy.

Die kinderbeskermingsdienste het onlangs sy regte as ouer ingekort en hy is verbied om enige kontak met sy kinders te hê. Martha het aan die polisie gesê sy asem het na alkohol geruik en hy het woedend geraak toe sy vir hom sê sy sal nie toelaat dat hy sy kinders oplaai nie.

Luidens hofstukke het Martha daarin geslaag om Jackson by die dagsorgsentrum uit te smyt en die deur te sluit. Daarna het hy speelgoed teen die venster begin gooi in ’n poging om weer in te kom. Martha het toe buitentoe gegaan, waar sy en Jackson baklei het tot die ongeïdentifiseerde vrou haar met ’n sneeugraaf in die gesig geslaan het. Jackson het Martha toe in die gesig geslaan en sy het omgeval. Die verdagtes het sonder die kinders gevlug.

Jackson is Maandag in hegtenis geneem, maar nie die vrou nie. ’n Klag van aanranding word teen haar ondersoek en haar naam word nog weerhou.

Bronne: Mashable, Buzzfeed