wasgoedmain

’n Polisiebeampte het aan die Indiese nuusdiens IANS gesê hul ma, net bekend as Rekha, het reeds haar bondel wasgoed gereed gehad, maar toe besef die waspoeier is te min.

Net voor sy die huis verlaat het om winkel toe te gaan, het sy die wasmasjien met sowat 15 L water gevul en die twee seuntjies, Nishant en Nakshya, tuis gelos terwyl hulle naby die wasmasjien gespeel het.

Toe sy ná ses minute tuiskom, kon sy haar kinders nêrens kry nie.

Sy het na bure gehardloop om hulle daar te soek, maar toe ook dié poging vergeefs was, gevra haar man, Ravinder, moet help soek.

Een van die egpaar se bure het die polisie ontbied nadat Rekha en Ravinder 20 minute lank naarstiglik na hul seuns gesoek het. Eindelik is die seuntjies in die wasmasjien gekry.

Die ouers het hul kinders dadelik uitgehaal en met hulle na ’n privaat hospitaal gejaag waar hulle dood verklaar is.

’n Geskokte Ravinder kon dit nie aanvaar nie en het sy seuns na ’n ander hospitaal geneem, maar medici daar het bevestig hulle het verdrink.

Die polisie vermoed die kinders het dalk op die bondel wasgoed geklouter om bo-op die wasmasjien uit te kom.

“Die familie is ontroosbaar,” sê ’n senior polisiebeampte. Die seuns se oorskot is na die Baba Saheb Ambedkar-hospitaal in Rohini geneem vir ’n nadoodse ondersoek.

Die paartjie se derde kind, ’n tienjarige, was na wat berig word by die skool tydens die voorval.

Bronne: Huffingtonpost, Ndtv.com, India.com