Daleyza Avila Hernandez is dood nadat sy vir ’n eenvoudige operasie tandarts toe is, berig Fox News.

Sy sou twee tande laat trek en twee ander laat stop by ’n kindertandartssentrum in Stockton, net oos van San Francisco. 

“Ek het net my dogter tandarts toe gevat omdat hulle haar tande sou regmaak, en 30 minute later het hulle haar vir my teruggebring – dood”, het Araceli Avila, Daleyza se ma, aan Fox vertel.  

Volgens Araceli was haar dogter nog gesond en vol lewe voor die operasie. Sy en haar man het buite die Children’s Dental Surgery Center gewag vir hul dogter om uit te kom, toe ’n ambulans voor die gebou optrek.

“Ek het besef hulle kom haal ’n kind, maar ek het nooit gedink dit is my kind nie.”

Daleyza is na ’n nabygelieë hospitaal geneem en met haar aankoms dood verklaar.

’n Verpleegster het aan Araceli gesê dat haar dogter se hart gaan staan het, waarskynlik as gevolg van ’n onderliggende hartkwaal.

David Thompson, administrateur van dié sentrum, het aan Fox News gesê dat dié driejarige ’n reaksie gehad het op die narkose, maar dat sy stabiel was toe die ambulans haar kom haal het.

“Ek het geen idee wat haar dood veroorsaak het nie. Ek het in die afgelope 10 jaar nog nie so iets teëgekom nie.”

Hy het bygevoeg dat haar ouers bloot vir sanitêre redes nie in die lokaal toegelaat is nie.

Die ontstelde Hernandez-gesin sê hulle verstaan steeds nie wat hul dogter se dood veroorsaak het nie.

Kalifornië se Raad van Tandheelkunde asook die plaaslike polisie is besig om die voorval te ondersoek. 

Bronne: Fox News, New York Post