Kim King-Macon (47) en haar driejarige kleinseun, Arcen King, was op pad om naby hul huis in Arkansas in Amerika inkopies te gaan doen toe hul pad kruis met dié van ’n ongedurige medepadgebruiker.

Die motoris agter Kim het ongeduldig geraak omdat sy nie gou genoeg na sy sin beweeg het nie. Die man het op sy toeter gelê voor hy uit sy kar geklim het en ’n skoot afgevuur het.

“Een skoot is afgevuur en dit het deur die voertuig gegaan en die kind getref,” bevestig Steven McClanahan, woordvoeder vir die Little Rock-polisiedepartement.

Kim was by ’n stopstraat toe die konfrontasie plaasvind. Toe sy die skoot hoor, het sy weggejaag, maar nie agtergekom haar kleinkind is raakgeskiet nie. Toe sy by ’n winkel stilhou, het sy besef haar kleinseun is getref en die polisie ontbied.

Lees ook: Padwoede-voorval - ‘Ek het nog gedink ons gaan net woorde wissel, toe klap sy my’

Luidens berigte was daar tydens die voorval ook ’n eenjarige seun ook in die voertuig.

Paramedici is inderhaas met die seun na die naaste hospitaal, waar hy kort daarna gesterf het.

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Bronne: theguardian.com, cnn.com, nydailynews.com