Drikus Steyn is reeds weer tuis op die wildsplaas tussen Groot-Marico en Swartruggens nadat hy Saterdag uit die hospitaal ontslaan is.

Tobie werk as voorman op die plaas, en sy vrou, Suzanne, was Maandag tuis met Drikus.

Die gesin het die perd, uit ’n baie goeie bloedlyn, ’n ruk gelede gekoop toe die vorige eienaars hom slagpale toe wou stuur.

“Ons het geweet niemand gaan op hom ry nie,” sê Tobie.

Maar Maandag het die voormalige resiesperd op ’n manier uit sy kamp gekom.

Vernon Veglon, skoolhoof van die Marico Akademie, waar Drikus ’n leerder is, sê iemand het vermoedelik die hek oopgelos.

Drikus het waarskynlik agter die perd verbygeloop toe die dier hom in die gesig skop. Toe Drikus begin huil, is Suzanne buitentoe. Sy het Tobie gebel, wat dadelik met Drikus hospitaal toe is.

Die seun het breuke aan sy neus, wangbeen, kakebeen en oogbank opgedoen.Vier van sy tande is uitgeskop en sy lip is oopgeskop.

By die eerste staatshospitaal waarheen hulle is, kon Drikus eers heelwat later geopereer word. Hulle is toe na The Little Company of Mary-hospitaal in Groenkloof.

“Hy gaan nou tot omtrent ses haasbek wees,” sê Tobie.

Hy sê sy seun kry af en toe nagmerries en is skrikkerig vir geraas.

“So iets is traumaties vir ’n kind.”

Tobie sê dit laat voel ’n mens magteloos om jou kind in pyn te sien. Tobie en Suzanne, het ook ’n dogter, Karien (15 maande). Breuke in Drikus se gesig en lip, wat tot by sy verhemelte oop was, moes geheg word. Meer as 40 steke is in sy lip gesit en hy het ’n dubbelbreuk in sy regteroogbank.

“Dit was gelukkig skoon breuke,” sê Tobie.

Hy sê Drikus, wat tussen diere grootword en ’n plaaskind is, is baie lief vir diere.

“Baie mense, veral vanuit Rustenburg, het ons gehelp en ons is baie dankbaar daarvoor,” sê Tobie.

Die gesin behoort nie tot ’n mediese fonds nie en die skool het ’n geldinsameling vir die gesin begin. Bel die skool by 014-503-0078.