Die vroue het brandwonde gehad en dit wil voorkom of hulle vasgebind was. Die drietal is gered nadat die polisie gereageer het op inligting oor ’n ontvoering.

Toe die polisie Dinsdagaand om sesuur by ’n oënskynlik verlate huis aankom, het hulle die vroue gered en agt mans in hegtenis geneem.

In hierdie stadium is dit onduidelik hoe lank die vroue aangehou is.

Volgens die vroue is hulle na bewering by ’n winkelsentrum genader en deur ’n “black dollar”-slenter om die bos gelei. Die slenter behels dat die slagoffer geld aan die boewe gee terwyl hulle mislei word met die belofte dat hulle hul geld sal terugkry, en boonop veel meer geld as wat hulle aanvanklik oorhandig het.

Die niksvermoedende slagoffer kry dan ’n sak of boks waarin hulle geld skynbaar is. Hulle word ook aangesê om nie die houer oop te maak voor hulle tuis is nie. Sou hulle dit doen, sal die inhoud net waardelose papier bevat.

Die drie vroue is in ’n stadium ontvoer en na die huis geneem.

Kapt. Kay Makhubela beskryf die saak as ’n deurbraak omdat dit saam met die veldtog 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders val.

“Ons is dankbaar die vroue is gered,” het sy gesê.

Die mans sal binnekort in die Roodepoort-landdroshof verskyn.

Bron: news24.com

#16Dae: Organisasies wat kan help

1. FAMSA (landwyd): Bel 011 975 7101, e-pos national@famsa.org.za of gaan na www.famsa.org.za vir inligting en hulp. 2. Lifeline (24-uur): 0861 322 322. 3. POWA (People Opposing Women Abuse):083 765 1235 of gaan na www.powa.co.za vir meer inligting en hulp. 4.Legal Aid South Africa: 0861 053 425 of besoek www.legal-aid.co.za vir bystand 5. Rape Crisis: 011 642 4345/ 021 447 9762. 6. SA Polisie-noodnommer: 10111