Die polisie het gisteraand drie verdagtes in hegtenis geneem en hulle word steeds aangehou vir ondervraging in verband met die moord op Franziska Blöchliger, die vyftienjarige meisie wie se lyk Maandagmiddag in die Tokai-woud buite Kaapstad gevind is.

[caption id="attachment_119661" align="alignnone" width="600"]Franziska se pa, Florian, saam met Franziska en haar jonger suster, Foto: Facebook Franziska se pa, Florian, saam met Franziska en haar jonger suster, Foto: Facebook[/caption]

Buiten die feit dat die verdagtes tussen die ouderdomme van 22 en 27 is, wou Wes-Kaapse polisiewoordvoer lt. kol. André Traut nie sê nie.

“Die omstandighede rondom die moord word steeds ondersoek en geen verdere inligting kan in hierdie stadium bekend gemaak word nie,” het hy bygevoeg.

Franziska se moord het die land geruk en Kapenaars het na die Tokai-woud opgeruk vir ’n nagwaak en om blomme ter nagedagtenis aan dié tienermeisie neer te lê.

Sy het Maandagmiddag vermis geraak ná sy en haar ma, Shireen, met haar jonger suster en hul hond in die Tokai-woud gaan stap het. Franziska wou glo verder op haar eie draf en dit was die laaste keer wat haar ma haar lewend sou sien.

Shireen het bekommerd geraak toe Franziska later die middag nie haar oproepe beantwoord nie en haar man, Florian, gebel wat die polisie in kennis gestel het.

Die soektog het egter op ’n tragiese noot geeïndig toe vrywilligers van die Kirstenhof Crime Watch sowat 17:00 Maandagmiddag op Franziska se lewelose liggaam – glo met takke bedek – afgekom het.

Sy is vermoedelik verwurg.

– Almari Wessels

Lees ook op Huisgenoot.com:

‘Sy was pragtig van binne en buite’: Franziska se verslae ouers bied groot beloning aan vir inligting

Vrou kwyn stadig weg in huisbak ná werkers haar daarbinne vergeet

Kyk om watter roerende rede speel die Bulls in pienk

‘Celeste, ek het nooit jou kind uit jou arms gevat nie,’ sê Zephany se grootmaakma in hof

Jy sal nie glo by watter gewilde Afrikaanse sangeres het die ooievaar kom kuier nie!