Die arbeidshof het Dinsdag beslis Foeta Krige, Suna Venter, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp moet weer aangestel word nadat hul werkgewer hulle in die pad gesteek het. Maar toe Foeta, Suna en Jacques vandag by die SAUK se gebou in Aucland Park opdaag vir werk, moes hulle vir meer as ’n uur wag voor die waarnemende hoof van nuus, Simon Tebele, hulle kom spreek het.

Simon het aan die drie joernaliste gesê hulle mag nog nie aanmeld vir werk nie, waarop Foeta hom toe gevra het of hulle in hierdie stadium in die SAUK se diens is.

Die waarnemende hoof van nuus het geantwoord dat hulle hul prokureurs moet raadpleeg oor die saak.

Die drie joernaliste het toe die gebou verlaat.

Bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, Dirk Hermann, het kort daarna opgedaag. Volgens Dirk het die SAUK-vier ’n "reg gehad om vandag terug te gaan werk toe". “Die SAUK het wel ’n aanduiding gegee dat hulle wil appelleer, maar die feit bly staan hierdie appèl is nog nie formeel voor aansoek gedoen nie," sê Dirk. “Dit beteken dat die bevel wat gister gegee is, staan.” Volgens Dirk kom dit in die praktyk neer op minagting van die hof. Volgens Dirk sal die volgende stap wees om ’n dringende hofbevel te kry wat hulle sal toelaat om werk toe te gaan.

Die SAUK het die joernaliste summier afgedank toe hulle die openbare uitsaaier se keuse kritiseer om nie gewelddadige optogte te dek nie. Solidariteit het die vier joernaliste in die arbeidshof verteenwoordig. Die SAUK het intussen aangedui hulle gaan die hof se beslissing beveg. Hulle het die SAUK-vier versoek om tuis te bly hangende die appèl.