pexels-photo-132752-large

Die bejaarde man het die pad glo Woensdagaand met ’n kierieprobeer oorsteek. ’n Volkswagen Kombi het hom na bewering getref en weggejaag. Daarna het twee motors, ’n bakkie en ’n motor, glo oor die man gery sonder om stil te hou, het die Roodepoort Record Donderdagoggend berig.

Die plaaslike buurtwag, die West Suburbs Roodepoort Neighbourhood Watch, het die voorval aangemeld.

“Ons het ongelukkig nie nog inligting nie. Ons weet ook nie of die oorledene se naasbestaandes al weet hy is dood nie. Die saak is nou in die polisie se hande," het Frikkie van Zyl, die buurtwag se woordvoerder, Donderdagoggend aan Huisgenoot gesê.

Die ongeluk het glo op die kruising tussen Randfonteinweg en Quelleriestraat plaasgevind.

Die Roodepoort-polisie het nie van die voorval geweet toe Huisgenoot hulle daaroor vra nie en die saak na die Johannesburgse metropolisie verwys.

Die metro-polisie het bevestig hulle wag nog op ’n ongeluksverslag.