China se berugte eenkindbeleid het lankal ’n nadelige uitwerking deurdat dit ’n groot geslagswanbalans geskep het.

Landwyd is daar miljoene meer mans as vroue, maar in een stad is die bordjies verhang.

In Dongguan in die suide van China is daar soveel vroue dat die mans daar glo elkeen twee of drie meisies het.

Dongguan is ’n nywerheidstad waar gewilde elektroniese produkte soos iPhones en iPads vervaardig word. Plaaslike fabrieke verkies om vroue in diens te neem omdat hulle nie mans soveel vertrou nie.

Dit beteken dat die meeste mans in Dongguan net los werkies doen, met baie vrye tyd om te doen wat hulle wil. Daar is dus meer as genoeg tyd vir ’n meisie of twee, met etlike mans daar wat erken hulle het twee of drie permanente meisies op ’n slag.

’n Manlike inwoner het aan ’n plaaslike TV-kanaal gesê: “Dis heelwat makliker om ’n meisie te kry as ’n werk.”

Hierdie noemenswaardige wanbalans tussen die hoeveelheid mans en vroue het daartoe gelei dat Dongguan nou as ’n sekshoofstad beskryf word.

Dit pla die meisies blykbaar min dat hulle nie die enigste vrou aan hul kêrel se arm is nie. Li Bin, ’n migrasiewerker, het vertel: “Ek het drie meisies, en hulle almal weet van mekaar.”

“Daar is so baie jong en naïve vroulike werkers in die stad. Hoekom kan ons nie meer as een hê as ons wil nie? Kyk, almal is hier om pret te hê; as jy dit nie gaan doen nie, gaan iemand anders wel,” het hy bygevoeg.

Bronne: news.com.au; Mirror