Drie mans is gister in hegtenis geneem omdat hulle na bewering onderklere van sowat R90 000 by ’n fabriek in Crown Extension in Johannesburg gesteel het, sê die polisie.

“’n Groep van sowat 15 mans, wat in ’n vragmotor rondry, het die fabrieksbestuurder en personeel aangehou en hul kontant en ander persoonlike besittings gesteel,” het adjutant-offisier Gordon Billing gesê.

“Die verdagtes het ook die personeel gedwing om 130 bokse mans- en vroueonderklere van sowat R90 000 in hul vragmotor te laai.”

Twaalf van die rowers het reeds in die vragmotor ontsnap toe die polisie opdaag. Drie mans (tussen 38 en 43) was nog daar. Hulle het drie ongelisensieerde vuurwapens en ’n sleutel vir ’n kar wat by die fabriek gestaan het, in hul besit gehad.

Billing vermoed die mans wou die motor gebruik om mee te ontsnap. Die voertuig is verlede jaar in Bedfordview gesteel.

Die drie mans word aangekla van rooftog en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen. Hulle kom binnekort voor in die streekshof in Newlands, wes van Johannesburg. - Sapa