“Twee van die klinieke is heeltemal gesluit ná kwaai strukturele skade,” het ’n woordvoerder, Tebogo Lekgethwane, in ’n verklaring gesê.

Die Stilfontein-kliniek Parkstraat-kliniek in Klerksdorp is gesluit.

Die derde kliniek is onder die administrasie van ’n myn op Stilfontein.

Tebogo het gesê opknappings aan die mynkliniek het begin en dit gaan na verwagting teen Woensdag funksioneel wees.

“As ’n tydelike maatreël het die departement gereël dat pasiënte met pendelbusse na nabygeleë gesondheidsfasiliteite vervoer word,” het hy gesê.

Die LUR vir gesondheid, Magome Masike, gaan Woensdag die klinieke besoek om die omvang van die skade te bepaal wat die aarbewing veroorsaak het.

Die aardbewing was een van die grootstes in die afgelope dekade in Suid-Afrika; dit is tot in Mosambiek en Botswana gevoel.

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Geowetenskap het gesê die middelpunt was in die Orkney-omgewing in Noordwes, waar een mens dood is,

’n Woordvoerder vir ER24, Luyanda Majija, het gesê die liggaam van ’n 31-jarige man is ná die aardbewing in ’n ou myndorp in Orkney gevind.

Minstens 400 huise in die gebied is na bewering verwoed, het die premier, Supra Mahumapelo, aan verslaggewers gesê.

- Sapa