Centurion

’n Tromp-op-botsing tussen ’n bakkie en ’n BMW kort voor middernag Saterdagaand op die R55 naby Olievenhoutbosch, Centurion, het die lewens van drie mense geëis.

Annine Siddall, ER24-woordvoerder, sê paramedici het ’n jong man, vermoedelik 18 jaar oud, in ’n kritieke toestand in die BMW aangetref. Hy is na die naaste hospitaal geneem vir verdere mediese sorg.

Foto verskaf: ER24

Daar was egter niks wat hulle kon doen om die bestuurder van die voertuig se lewe te red nie. Hy is op die toneel dood verklaar.

Die insittendes van die bakkie, ’n man en ’n vrou, het ook op die toneel beswyk.

Foto verskaf: ER24

Melkbosstrand

Ses mense is beseer toe twee polisievoertuie op die R37 by Melkbosstrand in ’n botsing met mekaar betrokke was. Die voorval het skuins voor halftien Saterdagaand plaasgevind.

Foto verskaf: ER24

Met ER24-paramedici se aankoms op die toneel was die brandweer- en reddingsdienste reeds besig om bystand aan die beseerdes te verleen.

Een van die beseerdes moes met meganiese kake uit een van die voertuie gered word.

Foto verskaf: ER24

Vyf mans en ’n vrou het matige tot ernstige beserings opgedoen. Hulle is op die toneel gestabiliseer voordat hulle na ’n nabygeleë hospitaal geneem is.

ER24-personeel het die vrou (vermoedelik in haar 20’s) en ’n man (vermoedelik in sy 50’s) na die hospitaal vervoer.