Talle passasiers is beseer toe die Boeing 777-300 waarin hulle van Moskou na Bangkok onderweg was, erge lug-turbulensie tydens die vlug ondervind het.

Volgens passasiers was daar chaos in die vliegtuig ná die voorval.

’n Video wat met ’n selfoon aan boord geneem is wys hoe beseerde passasiers in die middelpaadjie lê. Bagasie en verversings lê versprei deur die vliegtuig. Van die passasiers het vertel van bloed aan die bagasierakke.

“Dit het gevoel of die geskud van die vliegtuig nie gaan ophou nie, dat ons gaan neerstort,” het ’n passasier aan die Russiese nuuskanaal Rossiya 24 gesê. Luidens berigte is passasiers wat nie hul sitplekgordels tydens turbulensie aangehad het nie, selfs tot teen die dak van die binneruim geslinger. Van die passasiers het kneusings, gebreekte arms en bene opgedoen. Sommige was selfs bewusteloos gelaat.

Denis Antonyuk van die Russiese ambassade het aan die Australiese nuusagentskap 7 News, gesê 24 Russiese burgerlikes en drie Thaise burgers is beseer.

Volgens The Mirror het Vladimir Sosnov, adjunkhoof van die Russiese konsulaat in Thailand, gesê “die beseerdes het verskeie frakture opgedoen”.

Die voorval het plaasgevind sowat ’n uur voordat die Boeing in Bangkok sou land. Na landing is die beseerdes in ’n hospitaal in die stad opgeneem vir verdere mediese sorg.

Kyk die video:

 

Bronne: latestnwesheadlines.eu, thestar.com, timeslive.co.za, reuters.com, airlive.net