Dramatiese tonele soortgelyk aan tonele uit aksierolprente het hulle Woensdagoggend vroeg op die N1 naby Glen buite Bloemfontein afgespeel toe verkeersbeamptes ’n verdagte in ’n hoëspoedjaagtog agternagesit het nadat hy ’n jong kind ontvoer het, berig Volksblad.

Die 25-jarige man, vermoedelik ’n student, het kort nadat hy deur die verkeersbeamptes aangekeer is, wéér van hulle weggejaag – dié keer met sy hande in boeie en in ’n verkeersmotor.

Volgens Volksblad het hy glo drie verkeersmotors in die wilde jaagtog beskadig.

Die man is later met ’n skietwond in die linkerbeen na die Pelonomi-hospitaal gebring.

Hillary Mophethe, woordvoerder van die departement van polisie, paaie en vervoer, sê die man het omstreeks 07:30 drie kinders, ’n seun en twee meisies, wat op pad skool toe was, probeer ontvoer.

Hy het die kinders, van wie die oudste 15 jaar oud is, ’n saamrygeleentheid aangebied, maar hulle het dit van die hand gewys. Hy het hulle toe in sy Kia Picanto probeer laai.

Twee van die kinders het ontvlug.

Volgens Mophethe het beamptes van die provinsiale verkeerspolisie hulle daar naby vir ’n padversperring voorberei toe ’n vroulike beampte die kinders se noodkrete hoor.

Die verdagte het met een van die meisies (8) in die motor weggejaag. Die verkeersbeampte en haar kollegas het hom agternagesit.

’n Jaagtog teen ’n hoë snelheid het begin en het kilometers ver gestrek.

Een van sy voertuig se bande het ?pap ?geword ?en ?dit ?het gehelp dat die beamptes hom kon stop.

“Die man is geboei en saam met die kind na ’n toesighouer gebring,” sê Mophethe.

Die jong man het daarna met sy hande steeds geboei in ’n verkeers­motor geklim en terwyl die beamptes met die toesighouer oor die foon gepraat het, daarmee weggejaag.

Hy het teen ’n ander verkeers­motor gebots toe hulle hom weer wou voorkeer.

Nóg ’n jaagtog het op die N1 gevolg, maar dit het glo dié keer nie lank geduur voordat die man weer aangekeer is nie.

Mophethe sê toe die verkeersbeamptes hom in hegtenis wou neem, het hy geweier om die motor se deur oop te maak en hulle moes ’n ruit breek om die deur oop te kry.

Die man sal Vrydag op aanklagte van ontvoering, opsetlike saakbeskadiging en roekelose en nalatige bestuur in die hof verskyn.

Bronne: Netwerk24, News24