Die stadig bewegende, rooiwarm lawa is warm genoeg om huise te verbrand en die brandweer kan dit nie stuit nie.

Die lawa beweeg al weke lank na die dorpie Pahoa, en volgens amptenare verwoes dit alles in sy pad.

Kenners sê gesmelte lawa is warmer as 900 °C.

Kilauea bars al van 1983 uit, maar onlangs het daar lawa by ’n ander plek deurgebars.

Twee paaie wat na Pahoa lei, is gesluit en ’n begraafplaas het reeds weens die lawa in die slag gebly.

Die dorp se inwoners sal die verwoesting van hul huise kan kyk vir ’n “soort afsluiting”, het beamptes gesê.

RAMP IN STADIGE AKSIE

Wetenskaplikes het die publiek op 22 Augustus al oor die lawa begin waarsku. Die inwoners was toe nog besig om op te ruim ná ’n tropiese storm wat oor die Puna-streek aan wal gegaan het.

Die lawa se vloei is nie konstant nie; dit wissel tussen 1,8 m en 18 m per uur, afhangend van topografie, sê Janet Babb, ’n woordvoerder vir die Hawaiian Volcano Observatory.

Bronne: BBC, Sapa