Paramedici is sowat halfses Saterdagoggend na ’n ongelukstoneel op Van Reenenspas ontbied. Die pas verbind KwaZulu-Natal met die Vrystaat en dra die N3 nasionale pad oor die berg. Twee vragmotors was in ’n botsing betrokke. Beide voertuie was met die paramedice se aankoms op die toneel reeds in ligte laaie.

Volgens Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, kon omstanders daarin slaag om een van vragmotorbestuurders uit die brandende wrak te red. Hy verkeer in ’n kritieke toestand. Ongelukkig het een persoon sover bekend omgekom.
Brandweerspanne veg steeds verbete voort om die brand te blus. Daarna sal bevestig kan word of daar nog ander slagoffers is. Die kritiek-beseerde vragmotorbestuurder is intussen na ’n hospitaal in Ladysmith geneem. So het dit teen ongeveer agtuur vanoggend op die toneel gelyk.

Motoriste in die omgewing word aangemoedig om op streeksradiokanale in te skakel vir verkeersnuus oor die oopstel van die N3.