Die voorval het Sondag in Keulen, Duitsland, plaasgevind. Die kabelspoor is nie net deel van die stad se openbare vervoer nie, maar ook ’n gewilde toeriste-aantreklikheid.

Dit verbind die dieretuin aan die een kant van die Rynrivier met Rheinpark aan die anderkant daarvan.

Die plaaslike brandweer kon daarin slaag om die meeste van die gestrande toeriste, wat babas en bejaardes ingesluit het, uit die karretjies te red.  

Van die karretjies was egter in daardie stadium bo die rivier en reddingsdienste moes mobiele hyskrane inspan om die insittendes te red wat op plekke tot 50 m bo die water gestrand was.

Dit het ongeveer vyf uur geneem voordat almal veilig op land was. Twee passasiers het glo geringe snywonde tydens die reddingspoging opgedoen.

Henriëtte Reker, Keulen se burgermeester, het groot lof vir die passasiers en die reddingsdienste gehad.

Sy het self verskeie kere van die kabelkarretjie-diens gebruik gemaak en Sondag se voorval het geensins haar vertroue in die veiligheid van die diens ondermyn nie.

Thomas Miebach, besturende direkteur van die kabelspoormaatskappy, sê daar was nie juis ’n sterk bries nie en dis onverstaanbaar hoe die karretjie teen die stutpilaar kon bots.

Die kabelspoor is in 1957 amptelik geopen en Sondag was die eerste keer dat iets skeefgeloop het.

Bronne: nzherald.co.nz, globalnews.ca, telegraph.co.uk