Babalwa Breakfast se teenstrydige getuienis oor beweerde voorbereidings vir ’n huurmoord op Jayde Panayiotou kan net beteken dat sy jok, het die Oos-Kaapse hooggeregshof in Port Elizabeth Donderdag gehoor. Sy is ook summier in die hof in hegtenis geneem op aanklag van meineed en dwarsboming van die gereg. Babalwa sal Vrydag in die hof verskyn.

Die aanklaer Marius Stander het Babalwa die vorige dag as staatsgetuie geroep. Donderdagoggend het die hof sy versoek toegestaan om haar as ’n vyandige getuie te verklaar.
Sy het Woensdag inligting ontken in twee verklarings wat sy in April 2015 gemaak het.
Sy het een verklaring op 27 April 2015 by die Uitenhage-polisiekantoor en nog een in die vroeë oggendure by die Kabega Park-polisiekantoor afgelê. Vyandige getuie In die verklarings het Babalwa gesê Christopher Panayiotou het haar kêrel en die selferkende middelman, Luthando Siyoni, genader en hom gevra om sy vrou, Jayde, dood te maak. Luthando het intussen ’n staatsgetuie geword.

Babalwa het Woensdagmiddag heftig ontken dat sy dit gesê het. Sy het ook ontken dat sy gesê het Christopher sou R50 000 vir die moord betaal.

Omdat sy vyandige getuie verklaar is, kon Marius Babalwa kruisondervra asof sy ’n getuie vir die verdediging was. Marius het gevra of sy kon onthou wie haar verklaring by die Kabega Park-polisiekantoor geneem het.

Sy’t gesê sy het nie ’n goeie blik op die man gekry nie. Sy het bevestig die beampte was nie teenwoordig toe die polisie haar by die huis kom haal het nie, en ook nie by die Uitenhage-polisiekantoor nie.

“So waar het hy die inligting gekry?” wou Marius weet. Babalwa het gesê sy weet nie, want die beampte het die skryfwerk gedoen. “So jy sê hy’t al die inligting opgemaak,” het hy gevra, waarop sy geantwoord het dat sy nie weet nie. “Sê jy dat jy nooit dit wat hy neergeskryf het, gesê het nie?” Hierop het sy geantwoord: “Hy’t my gevra en ek het vir hom vertel van Thando (Siyoni) wat my kom haal en die sak en alles.”

‘Lieg vir die hof’ Babalwa het tydens die verklaring by Kabega Park gesê sy is gevra om die R50 000 te tel wat in Luthando se gimsak was. Sy het Donderdag gesê sy dra geen kennis van die geld in die sak nie. Sy’t gesê sy het nie ’n benul hoe die polisie uitgevind het van die geld as net sy en Luthando van die geld in die sak geweet het. Marius het gesê al manier hoe hulle daarvan kon geweet het, was omdat sy hulle vertel het.

“As ek die een was wat die inligting verskaf het, hoekom kan ek dit nie onthou nie?” het sy laat hoor.

Hy’t weereens gesê die polisie kon slegs geweet het van die ander inligting in haar verklarings omdat sy hulle vertel het. Dit sluit in dat Sizwe se motor by haar huis was en dat sy kar wit was.

Sy het gesê sy’s nooit die geleentheid gegun om haar verklaring te lees nie en dit is nooit aan haar voorgelees nie.

“Ek gaan aanvoer dat jy vir die hof lieg,” het Marius gesê. Hierop het sy geen kommentaar gehad nie.

Christopher, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, ontvoering, roof en die moord op Jayde op 21 April 2015. Hulle het onskuldig gepleit. Die beweerde huurmoordenaar, Sizwezakhe Vumazonke, is in September dood.

Jayde (29) is buite haar woonkompleks in Kabega Park, Port Elizabeth ontvoer toe sy vir haar saamrygeleentheid na die Hoërskool Riebeeckpark gewag het. Haar liggaam is op 22 April met ’n skietwond in ’n veld buite die township KwaNobuhle, Uitenhage gevind.

Die saak duur voort.

Bron: News24