’n Bejaarde man het Maandag selfdood gepleeg deur ’n tuisgemaakte klapper in sy mond te druk en aan die brand te steek by die gesinshof in die Pretoriase middestad, het die Tshwane-metropolisie bevestig.

Die 76-jarige man moes in die hof verskyn na bewering omdat hy deur ’n buurvrou van bekruipery beskuldig is, berig Netwerk24.

"Ooggetuies het die man omstreeks 08:00 gesien waar hy in die hofgange staan en iets uit sy sak haal. Hulle het gedink dit is  ’n sigaret," het senior superintendent Isaac Mahamba in ’n verklaring gesê.

"Hy het dit in sy mond gedruk, aangesteek en sy gesig opgeblaas."

Die man is op die toneel oorlede. Die hof het daarna vir die dag verdaag.

"Dit het later aan die lig gekom die man het homself met ’n klapper om die lewe gebring. Niemand anders is beseer nie."

Forensiese ondersoekers was Maandagoggend nog op die toneel op soek na verdere leidrade.

Addisionele bron: News24