Eers moes ons aan beurtkrag gewoond raak, nou is dit beurtwater. Suid-Afrika is vasgevang in 'n knelgreep van die ergste droogte sedert 1982 en meer as 2,7 miljoen huishoudings staar watertekorte in die gesig.

Begin vandag nog water spaar - en onthou, elke druppel tel

  1. Moenie die kraan oophou terwyl jy tande borsel nie; so kan tot 6 L water per minuut bespaar word.
  2. Vergeet van lang storte. Ses tot 45 L water per minuut kan so bespaar word.
  3. Kook net soveel water in die ketel as wat jy op ’n keer nodig het.
  4. Moenie jou wasmasjien of skottelgoedwasser gebruik as dit nie ’n volle lading het nie.
  5. Herstel druppende krane. ’n Druppende kraan kan 15 L water per dag, of sowat 5 500 L water per jaar vermors.
  6. Plaas ’n “waterverplasingstoestel” in jou toiletbak - selfs ’n baksteen of ’n plastiekbottel met water gevul - om water te bespaar.
  7. Gebruik ’n gieter pleks van ’n tuinslang om jou tuin nat te lei. Lei jou tuin vroegoggend of laatmiddag nat om verdamping te verminder en so meer water te bespaar. Terloops, ’n tuinslang kan tot soveel as 1,000 liter water per uur gebruik.
  8. Lei net jou tuin nat wanneer dit nodig is. Wenk: loop op die grasperk. As die spriete terugbons, is dit nie nodig om water te gee nie.
  9. Hou ’n beker water in jou koelkas. So het jy altyd koue water byderhand sonder om die kraan te laat loop tot koeler water uitkom.
  10. Gebruik ’n emmer pleks van ’n tuinslang wanneer jy jou voertuig was en gebruik die tuinslang kortliks wanneer jy die seepwater afspoel.
  11. Trek die besem pleks van die tuinslang nader om inritte en sypaadjies skoon te hou.
  12. Vang die water op wat loop terwyl jy wag dat die warm water deurkom. Gebruik hierdie water om plante of jou tuin mee nat te lei.
  13. Gebruik emmers of houers en vang die reënwater op wat by jou geute afloop; dié water kan ook vir jou tuin gebruik word.
  14. Gebruik ’n deklaag of boombas in blombeddings - dit help om onkruid af te weer en verdamping te keer.
  15. Hou jou oë en ore oop. Meld gebreekte waterpype en vermorsing van water by jou naaste plaaslike owerheid aan.

BRONNE: www.runningdry.org, www.irishexaminer.com, www.treehugger.com, www.edenproject.com