Kyk by youtube.com/watch?v=a_64-LbhT3M na ’n onderhoud met dr. Karp op die geselsprogram Dr. Phil. Hierin verduidelik hy die metode kortliks.

Die sogenaamde Vyf S’e is:

  1. Toedraai (“Swaddling”)
  2. Sy- of maagposisie
  3. Sjjjjjjj
  4. Swaai
  5. Suig

As jy sukkel met ’n huilerige baba, klink dié metode dalk vir jou soos manna uit die hemel. Dit is inderdaad indrukwekkend om te sien hoe dr. Karp met babas toor.

Plaaslike raad

Jenny Wright, ’n borsvoeding- en ouerskapskenner van The Parent Centre in Kaapstad, waarsku dat nuwe ma’s nie noodwendig dr. Karp se metode soos dit in die video uitgebeeld word, blindelings moet volg nie.

“Die kommerwekkendste van die video is dat dr. Karp glad nie noem dat die baba dalk honger kan wees en voeding nodig het nie. Om die behoefte aan borsvoeding te ignoreer kan ernstige gevolge vir die baba se gesondheid inhou.”

Jenny verduidelik dat borsmelk baie vinnig verteer word en dat dit, tesame met die klein magie van ’n pasgebore baba, beteken borsbabas moet gereeld gevoed word.

“Dit is kommerwekkend dat suiging eers by stap 5 genoem word en dat dr. Karp dan aanbeveel dat jy eers ’n fopspeen beproef, dan jou vinger vir die baba gee om aan te suig en eers in die derde plek voorstel dat jy jou bors in die baba se mond sit.”

Verder waarsku Jenny dat ’n ontstelde, huilende baba waarskynlik nie maklik gaan borsvoed nie. “As al die ander stappe dus eers probeer word en die baba wil niks anders hê as melk nie, kan hy dalk te ontsteld en selfs te uitgeput wees om te drink wanneer dit eindelik aangebied word.” Jenny wil ook graag alle ma’s gerusstel dat gereelde voeding normaal en noodsaaklik is.

Sy sê ook pasgebore babas hou nie altyd aan huil wanneer hulle honger is nie. “As ’n ma dan die teken miskyk en die baba hou nie vol nie, kan voedings wat dit baba nodig het, misgeloop word. Dit kan ernstige gevolge inhou.”

Dit pla Jenny ook dat dr. Karp net kortliks op die TV-program noem dat babas smag na die nabyheid aan hul ma’s. “Nabyheid aan mamma (of iemand) en die behoefte aan voeding is twee van ’n baba se grondliggende behoeftes en tog meld die vyf stappe dit nie.”

Oor stap 1 (toedraai) sê Jenny party babas hou daarvan om toegedraai te word en ander nie. “Die huidige aanbeveling oor die toedraai van jou baba, as jy dit doen, is dat die baba se hande naby aan sy gesig moet wees sodat hy sy handjies kan suig. So stel babas hulself gerus. Dis dikwels ook die eerste aanduiding vir ’n ma dat hy reg is vir voeding.”

- Suzaan Hauman