Wees gerus, daar is nie ’n Dozi-dubbelganger los in Hartbeespoort nie.

Dis inderdaad die einste Afrikaanse Zoeloe wat maar net vir die eerste keer in 25 jaar besluit het om sy lang goue krulle af te skeer om sy steun aan kankerlyers te wys.

“Ek was altyd Dozi Bon Jovi, nou’s ek Dozi Vin Diesel,” lag hy. Hy’t een oggend sommer net ‘n groot hap uitgeskeer voordat sy meisie, Lilly Wolmarans, enigiets kon doen om te keer.

Sy móés toe maar net help om dit klaar te maak en leer om daarvan te hou. Hy sê die nuwe styl is ook ’n knap vermomming. Mense herken hom skaars, maar wanneer hulle doen is daar baie positiewe reaksie, veral van die ouer tannies.

Seker omdat dit veel netjieser lyk. Ook sy ma, Susan Opperman, sê met ’n glimlag: “Ek hou daarvan. Hy lyk nou soos Henk (sy regte naam).” Dozi verstaan eintlik nie hoekom mense omgee oor hoe sy hare lyk nie.

“Dis my hare en dit het tog niks te doen met my kuns nie,” sê hy half vies. Solank sy musiek nie verander nie sal al sy aanhangers ook seker gou daarvan vergeet.