Celeste het hul moedige reis in ’n brief met Huisgenoot gedeel.

[caption id="attachment_129044" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Om ná jou 20’s uit te vind jy verwag is veronderstel om die beste oomblik van jou lewe te wees. Dit was so ’n kosbare oomblik toe die ginekoloog bevestig ek is reeds ses weke swanger. Ek was gesond en het al my doktersafsprake nagekom. Op 13 weke het ons ginekoloog voorgestel ek gaan vir ’n roetine-ondersoek by ’n fetale-evalueringskliniek in Kaapstad.

Gedurende die konsultasie is vir my gesê “dit” (dis hoe na ons baba verwys is) het Downsindroom. (My man werk in die buiteland en was in daardie stadium uitstedig. My ma was wel by my.) Al die tekens was daar, genoeg om te bevestig die baba ly aan Downsindroom. Ek het verbasend rustig gevoel, al wil g’n ouer hoor hul kind gaan moontlik met ’n gestremdheid gebore word nie.

Ek het verdere toetsing geweier en die dokter gevra om die konsultasie te staak. Dit was die mees ontstellende konsultasie wat ek nog gehad het. Ons het nooit eens oorweeg op die swangerskap te beëindig nie, so ’n amniosentese is ook nie oorweeg nie. Ek verstaan heeltemal dokters is nie veronderstel om persoonlik betrokke te raak by hul pasiënte nie, maar takt is uiters belangrik, veral wanneer die diagnose die res van die familie se lewe kan verander.

Ons ginekoloog was baie ondersteunend en kontak ons steeds van tyd tot tyd. Ek was vir die res van my swangerskap onseker of ons kind, wat ons Michael gedoop het toe ons uitvind dis ’n seun, met Downsindroom gebore gaan word. Ons as ouers het ’n kans gewaag en besluit ons sal dié onbekende situasie hanteer soos dit ontvou. My man, volwasse seuns, ouers en vriende het ’n besonderse ondersteuningsnetwerk gevorm.

Ons geloof het ons deur hierdie baie moeilike tyd gedra, en al was ons baie bang en onseker, het ons optimisties gebly en aangehou om mekaar by te staan.

IMG-20151016-WA0000

Michael is op Maandag 27 Augustus 2012 om 17:40 gebore. My man was oorstelp van vreugde. Ons het nie Downsindroom raakgesien nie. Ons het ons pragtige babaseun in die wêreld verwelkom. Dit was die perfekte oomblik vir ons as gesin.

Ons pediater het gesê die baba het Downsindroom en dat nog toetse sal kan toon watter soort dit is. Hulle het Michael onmiddellik na die neonatale waakeenheid geneem; ek moes nog herstel. My man het by ons seun gebly tot ek later die aand na my kamer geneem is. Teen daardie tyd was Michael al gestabiliseer.

Al het ons nie geweet wat die toekoms vir ons seun inhou nie, was ons dankbaar dat hy veilig die wêreld ingebring is. Dit is sagkens gestel. Ons het aangehou om onsself in te lig oor Michael se toestand. Ons seuns en Michael se ouma en oupa het ons bygestaan en gesê ons almal is saam in die ding.

IMG-20151028-WA0017

Toe Michael ses weke oud was, het hy met behandeling begin. Ná 10 maande, op ’n Saterdagoggend, het ek opgemerk hy het klein rooi knoppies op sy gesig, bene en enkels en gedog hy het dalk masels. ’n Vriend van ons, ’n dermatoloog, het hom die Woensdagoggend ondersoek en die Donderdag ’n biopsie en breedvoerige bloedtoetse gereël.

Teen die Donderdagaand het hy by ons huis ’n draai kom maak om ons die verskriklike nuus mee te deel: Michael het moontlik leukemie.

Soos jy jou kan indink, het my hele wêreld in duie gestort. Ons klein engeltjie wat sy ontwikkelingsmylpale reeds moeilik gehaal het, moes nou nog leukemie ook oorkom.

Die Vrydagoggend moes nog bloedtoetse gedoen word. Omstreeks 11:00 het ons pediater my gebel en gesê ons moet Michael so gou moontlik na die Rooi Kruis se onkologie-eenheid neem. Michael moes nog bloedtoetse ondergaan. Dié het gewys sy bloedplaatjietelling was 11, terwyl dit ’n minimum van 150 moes wees! Hy moes nog daardie selfde namiddag ’n bloedplaatjie-oortapping kry.

michael3

Ek kan nog goed onthou hoe die rooi knoppies verdwyn het namate die plaatjies hul weg deur sy liggaam gebaan het. Die onkoloog was gaaf genoeg om hom vir die naweek te ontslaan, maar ons moes Maandagoggend terugkeer sodat Michael ’n lumbale punksie en beenmurgbiopsie kon ondergaan.

Ek was verpletter. Hierdie klein engeltjie was salig onbewus van wat op hom gewag het. Ons het gebid dat Michael nie leukemie sal hê nie, maar die resultate wat ons Maandag ontvang het, het ons verkeerd bewys. Die onkoloog het die slegte nuus bevestig. Nou het ons seun kanker ook.

Net toe die dokter my die uitslae gee, stap ons plaaslike prediker by die intensiewesorg-eenheid in. Ek was weereens verpletter. My man was oorsee. Ek kon darem vir hom sê om ’n vlug huis toe te kry, want ons baba moes begin met chemoterapie.

Ses maande lank het ek en Michael in die Rooi Kruis-hospitaal gewoon. In dié tyd was ons net twee en ’n halwe weke by die huis. Michael het ’n paar noue ontkomings gehad waartydens almal gedink het hy dit nie sou maak nie. In die vroeë oggendure van ’n Sondag in Oktober 2013 is hy na intensiewe sorg oorgeplaas. Ná baie gebede het hy beter geword.

Michael4

In daardie stadium het ons besluit om die chemo te staak en eerder die lewe te vier en ten volle te geniet. Ons is huis toe, en al staar baie ander uitdagings hom in die gesig, is ons dankbaar vir elke dag.

Toe ons uitvind hy het Downsindroom, was ons familie (en dit sluit ons vriende in) daar, toe kanker sy opwagting maak, was ons familie en vriende steeds daar. Ons is so dankbaar dat ons kon bekostig om Michael hierdie geleentheid te bied, want hy sterk baie goed aan.

Al wat ons het, is hierdie dag; die toekoms is nooit ’n gegewe nie. Sonder die steun van ons vriende en familie is ons heeltemal verlore.

Hierdie storie is deur een van ons lesers ingestuur. Dis effens geredigeer en bygewerk.

Het jy ’n treffende storie om te vertel? Of dit nou ’n ongelooflike prestasie is, ’n hartverskeurende struikelblok wat jy moes oorkom het of sommer net iets wat jou laat lag het – deel jou storie met ons en dit verskyn dalk in Huisgenoot of op ons webtuiste.

Klik hier om uit te vind hoe.