Toetsing vir Downsindroom tydens swangerskap het die afgelope ruk toenemend veilig geword en die gevolg is dat talle ma’s verkies om fetusse te aborteer as die toetse positief vir chromosoom-afwyking is.

Navorsers voorspel as die aborsiesyfers aanhou styg, kan die toestand – wat die eerste keer deur die Engelse geneesheer John Langdon Down 154 jaar gelede beskryf is – binnekort nie meer bestaan nie.

Die toetse wat nodig is om Downsindroom tydens swangerskap te diagnoseer was voorheen baie onveilig en het behels dat ’n naald in die baarmoeder gedruk word om amniotiese vloeistof te toets. Die proses het gelei tot talle miskrame onder vroue wat graag wou uitvind of hul baba enige geboortedefekte het.

Lees ook: Nege uit 10 kleuters is nie aktief genoeg nie

Die nuwe toetsmetode, bekend as nie-indringende prenatale toetsing, behels dat ’n bloedmonster van die ma geneem word en dan word daar gesoek vir DNS van die ongebore kind. Dié toetsuitslae is binne vyf dae beskikbaar. Die eenvoud daarvan het gelei tot ’n toename in aborsies van babas met geboortedefekte.

Volgens die Daily Mail het aborsies weens Downsindroom en ander toestande binne drie jaar met 34 persent in Engeland toegeneem. In 2014 is 98 persent van babas wat die siekte gediagnoseer is in Denemarke geaborteer, volgens ’n hoofopskrif in die Copenhagen Post.

Die makliker toetsmetode en stygende aantal aborsies is ook met wydverspreide woede begroet deur talle wat voel die praktyk is oneties. ’n Groep in Ohio, Amerika, Ohio Righ to Life, beywer hulle nou daarvoor dat dit onwettig moet wees vir ’n dokter om ’n aborsie op ’n vrou uit te voer wat haar swangerskap beëindig om dit te vermy om ’n kind met Down-sindroom te kry.

Lees ook: Vroue raak moontlik kort ná miskraam weer swanger

“Ons wil almal volmaak gebore word, maar nie een van ons is nie, en almal het ’n reg om te lewe, of hulle volmaak is of nie,” sê Mike Gonidakis, voorsitter van die groep.

“Gaan na enige supermark of inkopiesentrum en gaan praat met gesinne wat ’n kind met Downsindroom het – hulle sal vir jou sê hoe gelukkig hulle is om daardie kinders te hê. Ons gaan binnekort die geen vir outisme ook vind. Gaan ons dan ook dié babas aborteer?”

Bronne: dailymail.co.uk, nytimes.co.uk, telegraph.co.uk, nationalrighttolifenews.org

– Lindsay de Freitas