Dié klein blondekopdogtertjie is gek oor dans en met ’n kamera flikflooi. Wanneer ’n mens na die sewejarige Sofia Sanchez se modelfoto’s kyk, val iets omtrent haar gesigge jou op: Dié klein dame het Down-sindroom.

Tog keer dit haar nie om te lag, dans en model te speel nie. Sofia se aanneemma, Jennifer Sanchez, het ’n video van haar bekkige dogtertjie gemaak om mense meer bewus te maak van die sindroom. 

Jennifer, wat ook ’n seun met Down-sindroom het, beywer haar jaarliks veral in Oktober (Down-sindroombewusmakingsmaand) om mense oor die toestand in te lig, het sy aan CBSNews gesê.

Vanjaar het Jennifer, van Rocklin in Kalifornië, besluit om haar engelkind self die praatwerk te laat doen. Sy het die idee gekry toe sy eendag met ’n foon in die hand op Sofia se bed lê. Sofia, met haar handsak oor haar linkerskouer en haartjies perfek gedoen, was gereed om haar ma se vrae te antwoord. “Ek kan enigiets doen, enigiets,” sê Sofia. “Ek is slim, ek is vriendelik en ek is geduldig.” Toe haar ma haar vra wat Down-sindroom is, verduidelik Sofia met groot handgebare dit is iets wat in haar bloed is en dit maak haar bloed baie spesiaal. Jennifer vra dan of dit vreesaanjaend is om Down-sindroom te hê. “Dit is glad nie vreesaanjaend om nie; dit is eintlik baie opwindend,” antwoord sy. Jennifer het die video van die minuut lange gesprek tussen haar en haar dogter op Facebook geplaas. Dit is al meer as 5 miljoen keer gekyk. 

“Boodskap ná boodskap wat ek ontvang het, het gesê dit is so inspirerend om te hoor van iemand wat so lief is vir hulself,” het Jennifer aan CBSNews gesê. “Ek dink nie mense hoor genoeg van mense met gebreke wat beskryf hoe wonderlik hulle oor hulself voel nie.” Die Sanchez-egpaar het buiten Sofia ook drie seuns.
Toe hul jongste seun, Joaquin, agt jaar gelede met Down-sindroom gebore is, het dit die gesin aangespoor om ander kinders soos hy te help.
Hulle het betrokke geraak by die Reece’s Rainbow Down Syndrome Adoption Grant Foundation, ’n organisasie wat geld insamel vir aannemingstoelaes en families vind vir weeskinders met Down-sindroom en ander spesiale behoeftes, berig CBSNews.  Die Sanchez-gesin het ’n meisie geborg wat in ’n weeshuis in die Oekraïne was, maar nadat hulle haar foto gesien het, kon hulle haar nie uit hul gedagtes kry nie. Jennifer-hulle het Sofia aangeneem toe sy 16 maande oud was.
Volgens Sofia se webtuiste is sy by geboorte verwaarloos en het sy in die kinderhuis gebly tot die Sanchez-gesin haar aangeneem het. 
“Ek kan nie my lewe sonder haar indink nie,” sê Jennifer oor Sofia. Die meisietjie is ’n bondel energie. Sy is gek oor toneelspeel, dans, sokker en allerhande meisiedinge.

Sofia self voel ook sy moet ’n stem vir “haar mense” wees. Soms is sy hartseer, kwaad of hardkoppig, maar eindelik “is sy lief vir die lewe en haarself”, sê Jennifer. Gaan kyk hier na Sofia se webtuiste.

Bron: CBSNews