Minstens 37 mense is dood toe ’n reusevragvliegtuig vroeg Maandagoggend in ’n dorpie in Kirgistan neerstort.

Die vragvliegtuig het volgens berigte in digte mis probeer land toe dit 'n dorpie digby Kirgistan se Manas-lughawe tref.

Die vliegtuig het in geboue ingeploeg en buiten die vyf bemanningslede is 32 mense op die grond ook dood. The Guardian berig die vliegtuig was vanaf Hongkong na Instanbul op pad en was geskeduleer om by die Manas-lughawe, naby die land se hoofstad, Bishkek, te stop.

Die digte mis het egter veroorsaak dat die Boeing 747 die aanloopbaan van die lughawe totaal gemis het en op die dorpie te lande gekom het. Groot dele van Dacha-Suu is verwoes, insluitend 15 geboue. Zumriyat Rezakhanova, ’n inwoner, het vertel die vliegtuig het neergestort terwyl inwoners nog gelê en slaap het.

"My suster se huis is erg beskadig. Gelukkig het sy en haar familie oorleef," het hy aan AP News gesê. Volgens Flightradar24 was die betrokke vliegtuig 14 jaar oud en het aan ’n Turkse maatskappy, ACT, behoort.
Ure later het vure in Dacha-Suu nog gesmeul en was reddingswerkers besig met opruimingswerk.

Bronne: The Guardian, BBC, Mirror