Andie Condogiannis, voorsitter van die DBV Phalaborwa, het onlangs aangekondig die tak in Phalaborwa se deure sou op Vrydag 16 Junie sluit en dat dierverwante kwessies deur die munisipaliteit se wyk 11-raadslid en ander lede hanteer sou word.

Verskeie donasies is egter sedertdien uit die gemeenskap ontvang, wat die organisasie in staat stel om ten minste sy salarisse te betaal.

Hulp stroom in vir DBV van alle oorde na hul deure amper sluit

“Ons bedryfsuitgawes is R60 000 per maand. Mense besef nie altyd watter koste betrokke is by die bedryf van ’n organisasie soos die DBV nie,” sê Andie. Behalwe kos vir die diere sluit dit versekering, veeartsrekeninge, salarisse en so meer in.”

Andie sê dit is baie sleg dat die situasie tot so punt moes gaan voordat daar werklik besef is die DBV benodig hulp. Sy is baie dankbaar vir die donasies wat sedert Vrydag ontvang is.

Sy het bygevoeg dat hulle maandeliks drie of vier klein skenkings van ongeveer R300 tot R400 van individuele skenkers ontvang. Ander gelde word deur fondsinsamelings ingesamel. “Ons gee glad nie om om fondsinsamelings te hou nie, maar dit dek nie al die oorhoofse onkostes nie. Dit is ’n eindelose stryd,” sê sy.

Hulp stroom in vir DBV van alle oorde na hul deure amper sluit

Ten spyte van die geldelike druk, hoop Andie steeds dat hulle uiteindelik ’n mobiele kliniekdiens aan die gemeenskap sal kan lewer.

Sy het mense bedank vir hul skenkings. “Elke bietjie maak ’n groot verskil,” het sy gesê.

Andie het ook ’n beroep op mense gedoen om die DBV te besoek en hul dienste as vrywilligers te lewer. “Kom ontmoet ons wonderlike diere!”