Toe ’n vierjarige seun van Wes-Bengale in Indië begin kla van kwaai maagpyn, het dokters vermoed hy het ’n gewas.

Groot was hul verbasing toe hulle op ’n skandering sien die pyn is deur ’n dooie fetus in die seun se buik veroorsaak.

“Die dooie embrio, met hande, bene, naels en ’n deels gevormde kop, is uit die seun se liggaam verwyder,” het sy dokter, dr. Shirshendu Giri, aan International Business Times gesê.

Hoewel die operasie uitmergelend was, herstel die seun goed.

Shirshendu het verduidelik die vierjarige het ’n baie seldsame mediese toestand gehad genaamd fetus in fetu. Dit beteken “baba binne ’n baba”.

Dit gebeur wanneer ’n fetus nie volledig ontwikkel nie en vroeg tydens die swangerskap binne die liggaam van sy tweeling geabsorbeer word.

Die fetus raak dan soos ’n parasiet wat op sy gasheer, in hierdie geval die vierjarige seun, teer.

Wêreldwyd was daar nog net sowat 100 aangetekende gevalle van fetus in fetu.

Bronne: The Independent; news.com.au