Die Staat het Donderdag ’n bykomende klag van poging tot moord gevoeg by die bestaande klagtes teen Middelburg se sogenaamde 'doodskis-twee' wat daarvan beskuldig word dat hulle Victor Mlotshwa in ’n doodskis gedruk het en gedreig het om petrol oor hom uit te gooi.

Die saak is Donderdagoggend in Middelburg se landdroshof uitgestel. Theo Jackson en Willem Oosthuizen het vlugtig verskyn, waarna daar beslis is hul verhoor sal op 26 Junie begin.

Die twee het met ’n vorige verskyning aan die hof gesê hulle wou Mlotshwa bloot ’n les leer en het in hul verklarings gesê hulle het nie opgetree met die doel om skade te berokken nie. Hul aansoeke om borg is ook voorheen laat vaar, maar hulle het later wel aansoek om borgtog gedoen.

Dit is nie toegestaan nie.

Die beweerde aanranding het op 17 Agustus 2016 naby die Komati-kragsentrale in Mpumalanga plaasgevind by die JM de Beer Boerdery.

Mlotshwa het glo opgelet hoe twee Land Cruiser-voertuie hom agtervolg, het die polisie se konstabel Dimakatso Bahula vroeër aan die hof gesê.

Die bakkies het toe tot stilstand gekom en die twee mans het glo sonder verduideliking vir Mlotshwa aangerand en hom geskop, het die konstabel ook vertel.

’n Kort video-opname van die voorval is op YouTube gelaai. In dié video van twintig sekondes praat ’n man Afrikaans en dwing hy Mlotshwa om binne ’n doodskis te klim. Hy gooi ook petrol oor hom uit.