kismain

Die ondersoekbeampte, speurkonst. Dimakatso Bahula, het by Theo Jackson en Willem Oosthuizen se borgtogaansoek getuig. Hy het aan die hof gesê Victor is op 17 Augustus by sy blyplek in ’n informele nedersetting weg.

Hy het agtergekom hy word deur twee Land Cruisers agtervolg.

Dimakatso het gesê die bakkies het stilgehou en twee mans het uitgeklim en Victor aangerand. Sy het ook gesê albei mans het Victor gewaarsku hulle sal hom skiet as hy probeer hardloop.

Lees ook: Regskenners gee raad vir betrokkenes by doodskisvideo: 'Smeek maar om vergifnis!' Sy het gesê Theo het na bewering ’n doodskis gaan haal en vir Victor gesê hy moet inklim, terwyl Willem hom na bewering gehelp het. Hulle het hom ook met ’n knopkierie gedreig. Die aanklaer, Rean Lourens, het borgtog teengestaan. Hy het gesê die beskuldigdes kan die getuies beïnvloed en hulle kan in gevaar verkeer as hulle vrygelaat word. Hy het ook gesê die openbare vrede kan versteur word.

Theo en Willem het hul borgtogaansoek laat vaar by hul vorige verskyning verlede maand. Hulle word aangekla van ontvoering en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade te berokken.

Die saak is aanvanklik tot 25 Januarie uitgestel terwyl hulle in aanhouding gebly het. Die voorval het in Augustus plaasgevind.

Die hof se galery was Donderdag stampvol joernaliste en lede van die publiek, terwyl DA- en ANC-lede buite betoog het.

Die beweerde aanranding op Victor het by die JM de Beer Boerdery langs die Komati-kragsentrale in Mpumalanga plaasgevind.

Op die video van 20 sekondes, wat op 7 November op YouTube gelaai is, dwing ’n man wat Afrikaans praat Victor by ’n doodskis in en dreig om petrol oor hom te gooi.

Bron: News24