Eers was hy agter tralies, toe dodelik siek in die tronkhospitaal, later “sterwend” by die huis en ’n paar maande later veglustig op die gholfbaan.

Toe is dit weer tronkhospitaal toe, want die man is mos siek, en nou is hy nogmaals terug by die huis om, soos destyds al gesê is, “vreedsaam te sterf”.

Maar niemand verwag juis om binnekort doodsberigte oor die veroordeelde bedrieërSchabir Shaik (54) te lees nie, al is hy nou al twee jaar “terminaal siek” op mediese parool vry.

Schabir se geval blyk geen uitsondering te wees nie – die departement van korrektiewe dienste het maar ’n power rekord as dit kom by oordeel wie moet tuis gaan sterf.

Tussen 2007 en 2008 is 124 Suid-Afrikaanse gevangenes vrygelaat weens terminale siektes, maar net 36 persent het intussen gesterf. Die ander, soos Schabir, is nog springlewendig.

Maar in die vier en ’n half jaar dat Schabir in die tronkhospitaal en nou tuis teen die dood stry, het nie minder nie as 987 terminaal siek gevangenes wel in Suid-Afrikaanse tronke gesterf. Vir hulle was daar geen geleentheid om rustig by die huis die lewe te verlaat nie.

Dis al ’n bekende geskiedenis: Schabir is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis, was toe 84 dae in ’n sel, toe nog 220 in die hospitaaltronk, en toe is hy huis toe – dodelik siek weens hoë bloeddruk waaraan hy al sedert 2001 ly, depressief, met ’n vergrote hart, aangetaste brein en niere , en net 50 persent sig.

Op 3 Maart 2009 word Schabir op ’n draagbaar by sy huis in Durban ingedra nadat hy minder as 20 persent van sy vonnis uitgedien het weens onwettige wapentransaksies waarby pres. Jacob Zuma en die Franse vervaardiger Thint betrek is.

“Hy is in die laaste stadium van ’n terminale toestand,” het die destydse minister van korrektiewe dienste, Ngconde Balfour, aangevoer. Maar nege maande later was hy agter die stuur van sy BMW X6 op pad winkels toe toe die media hom kiek.

In stryd met sy paroolvoorwaardes het hy op ’n Woensdagoggend gaan inkopies doen by die Spar in Floridaweg in Durban en uitgekom met twee boksies melk. Toe hy die koerantfotograaf sien, het hy in sy rigting gemik en die voertuig met ’n melkboksie geslaan. “Jou ma se ***!’’ het hy gegil.

“Ek soek my *** kwytskelding,’’ het hy hulle ook toegesnou voor hy weggejaag het.

Schabir het al aansoek gedoen om kwytskelding van sy vonnis in die jaar voor hy huis toe gestuur is, maar pres. Zuma het tot nou nog geen beslissing gemaak nie.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot, 31 Maart 2011.