In ’n klein kamer in die buik van die Steve Biko Akademiese Hospitaal (SBAK) in Pretoria is ’n luidrugtige gesuis.

Jy dink ’n oomblik lank dit is die verkoelingstelsel, maar dan kom jy tot verhaal. Dit is die derduisende vlieë wat soos ’n wolk saamkolk en zoem in die plastiekhouers waarin hulle aangehou word.

Die meeste mense gril en ril wanneer hulle dink aan vlieëmaaiers wat op dooie vleis krioel. Party mense wil nie eens begrawe word nie, want die gedagte aan ’n maaier wat hulle liggaam gaan vreet, is net een te veel vir hulle.

[caption id="attachment_152018" align="alignnone" width="600"]Prof Herman verduidelik die voordele van maaierbehandeling. Foto: Tumelo Leburu Prof Herman verduidelik die voordele van maaierbehandeling. Foto: Tumelo Leburu[/caption]

Nie Adriaan de Klerk (64) nie. Dié pensioentrekker van Pretoria is van mening maaiers het sy lewe gered. “Dit is regtig ’n wonderkuur,” sê hy.

Adriaan, wat ’n diabeet is, het in 2014 gangreen in albei sy voete gekry. Hy het by die SBAK gaan hulp soek en gaan aanklop by Prof. Herman du Plessis, ’n algemene chirurg wat in wondsorg spesialiseer.

Weens die gangreen moes hulle reeds sy linkerkleintoontjie afsit en omdat hy ’n diabeet is, het die wond nie gesond geraak nie. Die gangreen het versprei en hulle moes sy voet by sy enkel laat afsit.

Herman en sy span besluit toe om Adriaan met maaiers te behandel. “Die wond wou nie genees nie. Maaierbehandeling is baie meer kostedoeltreffend en spaar die pasiënt boonop die tyd in die teater,” sê Herman.

Maaiers is op die oop wond gesit en met ’n verband toegemaak. Adriaan het sowat drie dae lank so rondgeloop terwyl die maaiers lustig aan die dooie weefsel gevreet het.

Die wondergoggas het dit Adriaan se lewe gered, en hoewel hy nou met ’n prostese rondloop, sê hy hy kan omtrent alles doen wat hy in die verlede gedoen het.

“Ek kan nog loop en selfs los werkies doen wanneer ek die dag rusteloos is,” sê hy.

[caption id="attachment_152016" align="alignnone" width="601"]Prof Herman saam met sy grillerige kroos. Foto: Tumelo Leburu Prof Herman saam met sy grillerige kroos. Foto: Tumelo Leburu[/caption]

Maaierbehandeling word al sedert toeka se tyd beskou as ’n praktiese manier om wonde te behandel, sê Herman.

“Tydens die Amerikaanse burgeroorlog het hulle gesien wonde met maaiers op is baie skoner as dié wat net verbande om het,” verduidelik hy. “Dit was natuurlik vlieë wat eiers daarop gaan lê het.”

Tussen 1929 en 1931 het die mediese wêreld die wonder van maaiers begin erken.

“Tussen 1930 en 1940 het die praktyk baie toegeneem in Amerika. Oor die 100 hospitale het die behandeling aangebied, maar met die koms antibiotika en penisillien het maaiers in onbruik verval,” sê prof. Herman.

Tans is die SBAK die enigste hospitaal in Suid-Afrika wat hul eie maaierkolonie het en die behandeling bied. “Die maaierkolonie is sedert 2007 hier,” sê Herman.

Die biotegnologiemaatskappy inqaba biotec het op 11 April 2016 ’n vennootskap met die Universiteit van Pretoria se departement van chirurgie aangegaan om kragte saam te snoer en maaierbehandeling toegankliker te maak.

“Ons het Herman se artikels oor maaierbehandeling gekry en begin kyk na hoe ons die produksie kan bevorder sodat maaiers daagliks beskikbaar sal wees,” verduidelik Butana Mboniswa van Inqaba Biotec.

“Dokters en verpleegsters kan sê hulle soek teen môre die maaiers en ons sal dit kan verskaf. Die logistiek is daar om dit selfs verder te voer sodat ons die produk aan die hele vasteland kan verskaf,” sê hy.

Maar hoekom sal ’n mens maaiers bo tyd in teater verkies? “Dit werk baie goed,” sê Herman. “Veral vir wonde wat baie dooie weefsel en etter in het.” Hy verduidelik tyd in die teater kan ’n pasiënt baie geld kan kos en ook pynlik wees.

“ ’n Mens het nie altyd die tyd of die kapasiteit nie. Pleks van die pasiënt teater toe neem om die dooie weefsel onder narkose uit te sny, kan ’n mens maaiers gebruik. Dis baie goedkoper.”

[caption id="attachment_152017" align="alignnone" width="600"]Die bokse word met sykouse bedek sodat die vlieë nie kan ontsnap nie. Foto: Tumelo Leburu Die bokse word met sykouse bedek sodat die vlieë nie kan ontsnap nie. Foto: Tumelo Leburu [/caption]

Die hospitaal maak gebruik van die Lucilia sericata – beter bekend as ’n groen brommer.

“Dié vlieg is spesiaal omdat sy maaiers net dooie weefsel eet,” verduidelik hy. “Ander vlieë se maaiers sal lewendige weefsel ook eet.”

Herman sê hulle beste jaar was in 2010, toe hulle sowat een pasiënt per week met maaiers behandel het. Vanjaar het hulle sowat een pasiënt per maand wat kans sien vir die behandeling.

“Twee derdes van die pasiënte het hoë bloeddruk, is rokers of het suikersiekte. Sulke mense is geneig tot infeksies ná ’n operasie.”

Butana sê hierdie wonderkuur sal veral ? verskil kan maak in rampsituasies, soos tydens aardbewings of met tsoenami’s.

“Dit sal veral goed werk wanneer jy duisende beseerdes het, maar nie die kapasiteit het om almal tegelyk teater toe te vat nie. Dit sal ook goed werk in arm lande in Oos- en Wes-Afrika, waar mediese sorg gebrekkig is,” sê Butana.

By die maaierkolonie is Dewald Swanepoel, ’n tegnikus van inqaba biotec, besig om na sy grillerige kinders om te sien. Hy is verantwoordelik daarvoor die vlieë en die maaiers te voer.

“Dis klein larwe dié en eiers wat gister uitgebroei het,” verduidelik hy en wys na die roomysbak waar die larwe op ’n rou stuk lewer feesvier.

“Die lewensiklus is sowat twee weke vandat die larwe uitbroei, ’n papie en eindelik ’n vlieg word,” verduidelik hy.

“’n Wyfievlieg kan tot 300 eiers lê. Ons sal hulle twee tot vyf uur in die boks los om eiers te lê. Daarna verwyder jy die vlieë en steriliseer die eiers.”

[caption id="attachment_152015" align="alignnone" width="601"]Die maaiers vreet aam ’n rou stuk lewer voordat hulle in papies verander. Foto: Tumelo Leburu Die maaiers vreet aam ’n rou stuk lewer voordat hulle in papies verander. Foto: Tumelo Leburu [/caption]

Volgens Dewald kan hulle elke 24 uur vlieë steriliseer om eiers te lê.

Die bokse word bo met sykouse bedek. Dit laat Dewald toe om sy hand in te druk en die eiers of maaiers met gemak uit die bokse te haal.

“Wat hierdie behandeling so uniek maak, is die feit dat ’n verpleegster die behandeling kan toepas. Buitepasiënte kan inkom vir behandeling en ná ’n halfuur weer huis toe gaan. Daar is geen groot onkoste om ’n bed te kry nie en geen pynlike teatertyd nie,” sê Herman.

Johannah Legodi is die plaaslike verpleegster wat die maaierbehandeling toepas. Sy verduidelik hoe sy te werk gaan.

“Eerstens moet jy aan die pasiënt verduidelik dit kan voel of iets in hulle beweeg; so hulle moenie skrik nie. Diabetes sal egter nie noodwendig iets voel beweeg nie,” sê sy.

Sy verduidelik verder met die hulp van ’n model. Eerstens moet die wond skoongemaak word; dan word die maaiers óf in ’n ryssakkie óf net so op die wond geplaas.

“Dit hang af hoe die wond lyk. As dit diep hoeke het, moet die maaiers los ingesit word sodat hulle maklik by die dooie weefsel kan uitkom.”

Dan word die wond met verbande toegemaak sodat die gulsige maaiers hul werk kan doen.

Die groen vlieë druis voort in die houers waarin hulle aangehou word. Andries dink deesdae anders aan die brommers wanneer hulle in sy kombuis rondzoem, maar die vraag is: Wat doen jy?