[caption id="attachment_116729" align="alignnone" width="600"]Sedert 2008 kom dieselfde uil jaarliks terug na Allan en Tracy se voorstoep. Foto: Verskaf Sedert 2008 kom dieselfde uil jaarliks terug na Allan en Tracy se voorstoep. Foto: Verskaf[/caption]

In 2008 het Allan en Tracy Eccles ’n gevlekte ooruil aangetref op die stoep van hul huis in Johannesburg. Die uil het ’n eier in hul potplant gelê. Van toe af het die uil vir drie maande elke jaar haar kleintjies in die potplant kom grootmaak. Tracy en Allan het die uil PPO (“potplant owl”) gedoop en haar maat Pappa.

Toe die uilgesin in Januarie vanjaar weer hul opwagting maak, het Tracy opgelet PPO tree vreemd op. “Ek het met die trap opgegaan en PPO op die balkon se reëling sien sit. Sy het siek gelyk en gesukkel om asem te haal. Haar bors het verskriklik geklink.”

Lees ook: Ontmoet Pandora, ’n baie spesiale tarantula

Tracy het nader gegaan, en toe die uil nie dadelik wegvlieg nie, het sy besef iets is werklik verkeerd.

“Ek wou haar vang, want ek het geweet sy gaan dit nie maak nie. Net toe ek naby genoeg kom, het sy in die rigting van die moerasse agter ons huis gevlieg. Dit was die laaste wat ek van haar gesien het,” het Tracy hartseer vertel.

Nadat sy en Allan PPO ’n paar weke lank nie gesien het nie, het hulle ondersoek ingestel en vergiftigde, dooie rotte gevind in hul buurman se tuin – die einste plek waar PPO gewoonlik gejag het. “Ons kan maar net aanneem die buurman het rotgif gebruik om van die rotte ontslae te raak en PPO het een van die rotte gevang.”

[caption id="attachment_116730" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Volgens Tracy het PPO en Pappa die afgelope seisoen een kuiken gehad. “In hierdie stadium kan die kuiken groot insekte soos koringkrieke vang, maar hy moet nog geleer word om rotte te vang. Die grootste bekommernis nou is of Pappa en die kuiken ook ’n vergiftigde rot gaan vang.”

Tracy sê Pappa is nog in die omgewing, maar sy vermoed hy is baie eensaam. “Voëls ervaar ook ’n gevoel van verlies – nes mense,” sê sy. “Kyk maar na voëls wat raakgery word: Die maat sal altyd teruggaan na die pad en die ander een probeer bybring.”

Sy sê haar hart is in stukke. “Soveel mense het al gevra of ek my huis sal verkoop, maar omdat die uile hier is, het ek altyd nee geantwoord. Ons het ons bure vir jare gewaarsku om paraat te wees en nie gif te gooi nie, maar ongelukkig lyk dit of hulle nie geluister het nie. Ek kan nie aan jou beskryf wat PPO en haar gesin vir ons beteken het nie.”

Lees ook: Dié kat neem beter selfies as jy

Dr. Gerhard Verdoorn, direkteur van die Griffon-gifinligtingsentrum, dink dis ’n oorhaastige gevolgtrekking om te dink rotgif het die uil se dood veroorsaak, want baie ander faktore kan daartoe bydra.

“As die uil begin hoes het, het sy waarskynlik Trichomonas gallinae opgedoen. Uile doen dié siekte gereeld op as hulle stadsduiwe vreet. Wit spikkels ontwikkel in die mond, gevolg deur ’n hoes. Die uil vrek binne vier tot vyf dae.”

Volgens Gerhard is daar verskeie knaagdierbeheermiddels op die mark wat gee gevaar vir uile in hou nie. “Dit bly egter krities belangrik dat knaagdierlokaas op die regte manier versprei word, anders kan mense hul honde vergiftig – terwyl uile niks sal oorkom nie.”

* Rig navrae oor die regte gebruik van knaagdierbeheermiddels aan Gerhard deur hom te bel by 082-446-8946 of ’n e-pos te stuur na nesher@tiscali.co.za.

– Jacques Myburgh