Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein is verlede Donderdag ontbied. Volgens Reinet Meyer, senior DBV-inspekteur, het sy in haar 27 jaar in dierewelsyn nog nooit so iets gesien nie.

“Ek het werklik nie gedink dat die donkies so honger kon wees dat hulle die bas van die bome sou afvreet nie. Ander het aan bokse begin vreet wat op die hoewe gelê het,” het sy gesê.

Volgens Reinet het hulle dadelik ’n veearts laat kom en dié het vasgestel dat die donkies die herpes-virus onder lede gehad het en nie in ’n toestand was om vervoer te word nie.

Die donkies behoort aan ’n Chinese burger wie se naam aan die DBV bekend is.

“Ons wag net op nog een verslag; daarna sal ’n klag van dieremishandeling teen die Chinees aanhangig gemaak word,” het Reinet aan Huisgenoot gesê.

Reinet sê daar is ’n neiging in Oosterse lande om die weefsel onder donkies se vel te gebruik om ’n ekstrak te maak wat gebruik word as seks-doepa wat na bewering libido aanhelp. Reinet sê werkers op die hoewe het aan die DBV gesê dat die donkies daar gelaat is sodat die vel vir doepa gebruik kon word.

“Hierdie praktyk is ’n euwel en ons sal beslis alles in ons vermoë doen om dit stop te sit,” het Reinet gesê.

Sy sê van die donkies was so swak dat hulle nie kon opstaan nie. Donkie-fetusse is in die veld gevind.

“Dis omdat hulle so maer geword het dat hulle begin aborteer het. En ’n donkie is nie eintlik ’n dier wat van nature maer word nie; hy kan vir homself sorg. Dit was baie sleg om te sien dat hulle al boombas begin vreet het.”

Daar is ook perlemoen op die hoewe gevind.

Kapt. S’fiso Nyakane, woordvoerder van die Valke-ondersoekeenheid, sê die ondersoek duur voort, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.