Die ster van November Man se aangenome dogter, Charlotte (41), is op 28 Junie dood ná ’n drie jaar lange stryd teen eierstokkanker. Sy eerste vrou en Charlotte se ma, Cassandra Harris, is 22 jaar gelede aan dieselfde toestand dood.

Pierce se vriend Bron Roylance het gesê die hele voorval het hartseer herinneringe teruggebring vir die 60-jarige akteur. Hy het aan die tydskrif People gesê: “Charlotte se siekte het Pierce gedwing om weer die hele nagmerrie van hierdie verskriklike siekte van voor af te ervaar. Pierce hanteer Charlotte se dood, maar in werklikheid is hy heeltemal verpletter.”

Pierce word wel ondersteun deur Keely Shaye Smith (49), met wie hy in 2001 getrou het. Volgens Bron is dit ware liefde. “Tydens slegte tye is hulle albei steunpilare. Pierce sê altyd: ‘Styg bo dit uit.’ Hy het ’n innerlike krag wat hom altyd help om aan te gaan. Hy sal voortgaan om ’n eggenoot en ’n pa te wees. Hy sal voortgaan met sy lewe. Dis Pierce: een voet voor die ander. Altyd.”