Donald Trump, die Republikeinse presidentskandidaat, het pas die nodige 270 kieserstemme oorskry wat nodig is om die volgende president van die Verenigde State van Amerika te word.

Die stemme het reeds vroegdag vir Trump begin inrol ná hy in ’n skokwending die deelstate van Florida, Noord-Carolina en Pennsilvanië geseëvier het. Dié sakeman, met geen politieke ervaring nie, het tot dusver 276 kieserstemme ingepalm, ses meer as die vereiste 270. Hy het so sy oorwinning beklink. Hillary Clinton kon net 218 stemme vermag. Sy het intussen erken sy het die verkiesing verloor. Sy het vir Donald Trump gebel om hom geluk te wens.
Donald Trump is daarmee amptelik die 45ste president van Amerika en die vreugdevure het hoog gebrand by Trump se verkiesingspartytjie. Elke keer wat Trump 'n deelstaat se kieserstemme gewen het, het sy ondersteuners gejuig. Hierteenoor was die atmosfeer by Clinton se verkiesingssaamtrek in New York gedemp en talle van haar ondersteuners was in trane toe hulle besef het dat vanjaar se uitslag nie in hul guns gaan wees nie.
Clinton se veldtogbestuurder, John Podesta, het die ondersteuners 'n rukkie voor die aankondiging van Trump se oorwinning huis toe gestuur. "Daar is nog baie stemme wat getel moet word," het hy gesê. Podesta het ook gesê hulle moet 'n "goeie nagrus" inkry en dat die party later verder kommentaar sal lewer.