Die presidensie het bevestig dat die Amerikaanse president Donald Trump gevra het vir ’n telekonferensie met pres. Jacob Zuma.

Die presidensie het in ’n Twitter-inskyrwing gesê die gesprek sal na verwagting Maandagmiddag plaasvind.

Dit sal die eerste keer wees dat die twee presidente praat sedert Donald in Januarie ingehuldig is.

Pres. Zuma het vir pres. Trump in ’n boodskap gelukgewens nadat hy die verkiesing in November gewen het en gesê hy sien uit daarna om voort te bou aan bestaande verhoudings tussen die lande, insluitend die bevordering van vrede en sekuriteit, veral op die Afrika-kontinent.

Dis nog onduidelik of die Trump-administrasie die verhouding tussen Amerika en Afrika ’n prioriteit gaan maak.

Bron: News24