Don Steenkamp (18), die veroordeelde verkragter en moordenaar van Griekwastad, se appèldatum is eers uitgestel berig Volksblad.

Steenkamp, wat effektief 20 jaar tronkstraf opgelê is, se verhoor sou aanvanklik op 9 Maart voor ’n volbank regters in die Noord-Kaapse hooggeregshof aangehoor word.

Sy appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis sal egter nou direk na die hoogste hof van appèl in Bloemfontein verwys word. Die datum wanneer sy appèl nou aangehoor sal word, is nog onbekend.

Steenkamp meen sy vonnis is skokkend en onvanpas en dat die regter in verskeie opsigte in die skuldigbevinding gefouteer het.

Volgens Volksblad het die besluit om die verhoor oor te plaas gevolg op samesprekings tussen die Nasionale Vervolgingsgesag en Steenkamp se regspan

Ingevolge die Wet op Kindergeregtigheid, wat in 2012 bekragtig is, het ’n minderjarige ’n outomatiese reg tot appèl. (Steenkamp was ten tyde van die uitspraak en vonnisoplegging minderjarig.)

Volksblad berig ook dat Steenkamp deesdae in ’n gevangenis in Boksburg aangehou word en dat die betaling van regskoste ’n tameletjie is aangesien hy geen inkomste het nie en ook niks van sy ouers of suster kon erf nie.

Steenkamp is verlede jaar daaraan skuldig bevind dat hy op 6 April 2012 sy ouers, Deon (44) en Christel Steenkamp (43), en sy suster, Marthella (14), op hul plaas vermoor, Marthella verkrag en regsverydeling gepleeg het.

LEES MEER HIER