Die 18-jarige Don Steenkamp, wat tronkstraf vir die moord van sy gesin in die omstrede Griekwastad-saak opgelê is, meen sy vonnis is skokkend en onvanpas, berig Volksblad.

Volgens dié veroordeelde moordenaar het regter-president Frans Kgomo glo in verskeie opsigte in die skuldigbevinding gefouteer.

Steenkamp het Dinsdag appèlvorms ingedien vir die skuldigbevinding en vonnis.

Hy is op 13 Augustus tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir elk van die drie moorde, 12 jaar vir verkragting en vier jaar vir regsverydeling. Die vonnisse word gelyktydig uitgedien.

In die kennisgewing van appèl wat Dinsdag ingedien is, sê Steenkamp die regter het gefouteer deur te bevind die staat se saak is bo alle redelike twyfel bewys, dat sy eie getuienis onder omstandighede nie redelik moontlik waar is nie, dat sy getuienis verwerp is asof hy nie getuig het nie en dat hy nie die geleentheid gehad het op ’n billike verhoor onder die Grondwet en Wet op Kindergeregtigheid nie.

Volgens Volksblad sal die appèl moontlik begin 2015 aangehoor word.

Bronne: Sapa, Volksblad