Don Steenkamp sr. (80) het onlangs ’n derde beroerte gehad sedert sy seun, Deon (45), skoondogter Christel (44) en kleindogter Marthella (14) vermoor is. Hy was langer as ’n week in die waakeenheid van die Mediclinic Kimberley en is Woensdagaand daar oorlede.

Sy vrou, Bettie (86), het Sondag nog aan Huisgenoot vertel hoe sy glo en bid dat haar man van die afgelope 59 jaar sal oorleef. Hy kon in daardie stadium nie praat of sluk nie en die regterkant van sy lyf was lam.

Marianna Smith, Bettie en Don sr. se een dogter, het gesê haar pa het nog altyd goed na sy gesondheid omgesien, maar sedert die familietragedie op die plaas Naauwhoek is dit asof hy berusting daarin gevind het dat sy tyd nou uitloop.

Don jr. (16), die enigste oorlewende van die treurspel, het gereeld by sy oupa in die hospitaal gaan kuier en sy ouma het vertel hoe erg Don sr. oor sy naamgenoot is. Dis asof hy amper liewer vir sy naamgenoot as sy ander kleinkinders is, het sy verduidelik. “Hy (Don jr.) is al wat ons oorhet.”

Don sr. word Sondagoggend vanuit die NG Kerk Vooruitsig in Kimberley begrawe.

  • Lees in vandeesweek Huisgenoot die volledige onderhoud met ouma Bettie Steenkamp.

- Herman Scholtz