Dit het alles begin toe sy motor naby Tulare in Spink County sonder brandstof gaan staan het. Vier uur in die oggend.

Soos enige persoon in ’n penarie het Troy die nooddienste gebel en om hulp gevra. Hy het die nooddienspersoneel meegdeel dat sy motor gaan staan het, waarskynlik sonder brandstof.

En soos dit enige deugsame polisieman betaam, het die persoon wat op Troy se noodoproep reageer het dadelik besef alles is nie pluis toe hy by die gestrande man en sy motor opdaag nie.

Die polisieman het Troy se gedrag as “bisar” beskryf en hom aangeraai om liefs nie verder te ry nie. Hy het ook vermoed dat Troy gewapen was.

Maar daar was skynbaar geen keer aan Troy nie, want duidelik was hy ’n man op ’n missie en die oop pad se roepstem was net té sterk.

Hy het summier die polisieman eenkant toe geveeg, sy patrolliemotor gesteel en spore gemaak.

Kort voor lank is hoofwegpatrollie en ander polisiemanne uit die area ingeroep om die patrolliemotor-dief te help vastrek.

Ná meer as 200 km kon hulle eindelik vir Tony vastrek. Maar dit was nie te danke aan hul agtervolgingsvernuf nie. O nee. Troy het wéér sonder brandstof gaan staan.

Hoewel Troy se motief vir die “leen” van die patrolliemotor onseker is, is daar geen onduidelikheid oor wat hom nou in die gesig staar nie: ’n klag van motordiefstal.

Bronne: foxnews.com, abcnews.go.com, aberdeennews.com