Dolly Parton glo sy lyk oes sonder grimering.

Die 9 to 5-sangeres, wat bekend is vir haar groot haredos en baie grimering, erken sy is nie ’n natuurlike skoonheid nie en verstaan hoe mense verwag sy op die verhoog moet lyk.

Sy het aan die tydskrif Radio Times gesê: “As iemand my vra hoe ek sonder grimering lyk, sal ek sê ek lyk sleg! Maar dis oukei; wie lyk  goed sonder grimering?

“Ek is nie ’n natuurlike skoonheid nie; dis een van die redes hoekom my voorkoms so oordrewe is.

“Ek voel beter wanneer ek ’n bietjie grimering dra. Dit is nie lekker wanneer ek in die spieël kyk en wonder wie dié lelike ou vrou is nie.”

Die 68-jarige ster hou vol sy voel nie daar is “twee Dollys” (een op die verhoog en die ander by die huis) nie, maar sy hou daarvan om op haar beste te lyk vir haar aanhangers sowel as haar vriende en familie.

Sy verduidelik: “Ek is altyd Dolly, want my hart en kop is altyd dieselfde. En my voorkoms word mooi oordink. Ek kan my nie voorstel om soos party kunstenaars in haarkrullers en met gesigroom aan mense te ontvang nie.”

Selfs wanneer sy tuis is met haar man van 48 jaar, Carl Dean, sit sy steeds ’n bietjie grimering aan en sit ’n paar krullers in haar hare.

Sy sê: “Ek wil nie voor hom slonsig lyk nie. Ek is nie twee verskillende mense nie, maar ek is verantwoordelik vir die persona van die mens wat julle as Dolly Parton ken. Ek weet hoe mense verwag ek moet lyk. Maar ek kan ook huis toe gaan, al hierdie goed afhaal en steeds dieselfde mens wees.”