’n Man van Hartford in die Amerikaanse deelstaat Connecticut kon sy oë nie glo nie toe sy kleindogter, Ashley, ’n $1-noot wat sy oorlede vrou geteken het, vir hom bring.

Peter Bilello (86) het geglo die noot was vir altyd weg nadat hy dit per ongeluk vyf jaar gelede uitgegee het.

Peter se vrou, Grace, is in November 2014 ná ’n lang kankerstryd oorlede. Kanker is in 2001 by haar gediagnoseer.

Sewe jaar voor haar dood het Peter met die idee vorendag gekom dat hy en Grace elkeen ’n $1-noot teken waarna Peter dit vir ewig in sy beursie sou bewaar.

Omtrent ’n jaar daarna het Peter dit per ongeluk uitgegee. Hy was vas oortuig hy gaan dit nooit weer sien nie.

Totdat sy kleindogter met drie $1-note in kleingeld teruggekom het nadat sy ’n toebroodjie gaan koop het.

Wonderbaarlik was Grace se handtekening op die een noot.

“Dit is ’n wonderwerk om dit ná vyf jaar terug te kry,” het Peter gesê. “Wie weet hoeveel miljoene mense het al die noot in hul hand gehad?”

Vir Peter is daar net een mens wat hierdie onwerklikheid kon laat gebeur: Grace self. “Niemand gaan nou hierdie noot in die hande kry nie,” sê hy.

Bronne: News.com.au, Daily Mail