Die omstrede ses maande lange dolfyn-jagseisoen het Maandag op die berugte dorp Taiji begin, maar slegte weer kan enige jagtogte uitstel, het ’n plaaslike amptenaar aan AFP gesê.

Die jaarlikse jagtog, waartydens mense van die dorpie in die suidweste van die land honderde dolfyne by ’n afgeleë baai inlok en afmaai, het in 2010 wêreldwyd aandag getrek toe dit die onderwerp was van ’n Oscar-bekroonde dokumentêr genaamd The Cove.

“Die dolfyn-jagseisoen het vandag begin en gaan tot einde Februarie aanhou,” het ’n amptenaar van die Taiji-visseryvereniging gesê. Hy het bygevoeg die jagseisoen vir loodswalvisse, wat vandag begin, eindig in April.

Maar slegte weer Maandag beteken daar gaan nie op die dag gejag word nie, het hy gesê.

Omgewingsaktiviste is reeds in situ om die jagtog te kyk, het die amptenaar gesê.

Tydens die vorige seisoen het die internasionale omgewingsgroep Sea Shepherd, wat hulself Cove Guardians noem, lewendige beeldmateriaal van die dolfyne se vangs uitgesaai.

Vroeër vanjaar het die slagting weer wêreldwyd kritiek uitgelok nadat die Amerikaanse ambassadeur in Japan, Caroline Kennedy, getwiet het oor haar kommer oor die onmenslikheid van die jagtery.

Dié wat dit verdedig, sê dit is ’n tradisie en noem die diere wat hulle jag is nie ’n bedreigde spesie nie; die Japannese regering stem saam met hierdie punt.

Hulle meen besware uit die Weste is hipokrities en ignoreer die groter getalle beeste, varke en skape wat geslag word om aanvraag elders te vervul.

Maar kritici van die praktyk sê daar is nie voldoende aanvraag vir dolfynvleis nie, wat in elk geval gevaarlik hoë kwikvlakke bevat.

Hulle sê die jagtog is net winsgewend as gevolg van die hoeveel geld lewendige dolfyne kan haal wanneer dit aan akwariums en dolfynvertonings verkoop word.

Sondag het sowat 30 mense in Tokio ’n optog gehou om protes teen die jagtog aan te teken. Hulle meen dit beklad Japan se reputasie in die buiteland.

- Sapa